Local News

Claudi Boshoff se lewe met Lupus

Claudi Boshoff erken van buite lyk sy goed, maar aan die binnekant is sy baie siek.

POLOKWANE – Op die oog af is Claudi Boshoff, haar man, Shane en hulle seuntjie Logan (5) ‘n gelukkige gesin.

Hulle lag en gesels terwyl Logan rustig sit en speel. Kyk jy egter verby die glimlagte, sien jy die skadu van bekommernis en swaarkry in hulle oë.

Claudi (29) erken van buite lyk sy goed, maar aan die binnekant is sy baie siek.

“Ek is verlede September met lupus gediagnoseer. Dit is ‘n kroniese inflammatoriese siekte wat my organe affekteer.”

Outo-immuunsiektes, vertel Claudi, is deel van haar familiegeskiedenis. Sy het reeds simptome ondervind voor Logan se geboorte, maar dié het vinnig vererger nadat hy op 34 weke gebore is.

“Vandag sukkel ek om my hande te gebruik. Ek was ‘n haarkapper en moes dit staak. Ek kan met tye nie loop, in en uit die bad klim of my hande gebruik nie. Sy laat val goed en kan nie by die trappe op en af nie.”

Die diagnose het nie oornag gekom nie en Claudi moes reeds verskeie toetse ondergaan om agter die kap van die byl te kom. Sy weet ook haar niere is reeds aangetas.

“Ons besef daar is nie ‘n kuur nie, maar ons hoop om die simptome minder te maak. Dit kos ongelukkig baie geld, en ek kan nie meer werk nie. Ek het reeds twee maal chemoterapie ondergaan, maar dit het geen verandering meegebring nie en selfs die kortisoonbehandeling werk nie meer nie.”

Shane is tans die enigste broodwinner met sy onderhoudbesigheid, maar na hy in 2022 en 2023 drie rugoperasies ondergaan het, kon hy vir baie lank aaneen werk nie en moes die gesin in hulle spaargeld begin delf. Hy sê die werk is stil en hulle bid elke dag dat dit beter moet gaan.

Logan moet ook arbeid- en spelterapie ontvang om die situasie met Claudi te verwerk.

“Ons het ons mediese fonds en al ons polisse verloor. Ons het nie familie in die stad nie, maar wonderlike vriende en kliënte. Logan se skool ondersteun ons ook. Die toetse wat ek elke keer moet laat doen kos by die R10 000. Ons glo en vertrou, en bid ongelooflik baie. Ons weet Hy sal voorsien en ons dra.”

Claudi se volgende doktersafspraak is by ‘n internis-rumatoloog, om haar toekomstige behandelingsplanne te bespreek.

Indien jy die gesin kan bystaan, kontak vir Claudi by 064 385 9935.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button