Renhuldeblyke vir Oom Abie
Die Bosveld Wedrenklub het dit goedgedink om 'n laaste huldeblyk te bring aan dié legendariese inwoner en motorwedrenentoesias, wat vir baie jare self 'n ondersteuner en renjaer was.
MOKOPANE – Toeskouers, renjaers en vriende van oom Abie Cooper wat op 3 Maart oorlede is het Saterdag na die ovaalbaan buite die dorp gestroom vir ‘n renhuldeblyk in sy eer.
Die Bosveld Wedrenklub het dit goedgedink om ‘n laaste huldeblyk te bring aan dié legendariese inwoner en motorwedrenentoesias, wat vir baie jare self ‘n ondersteuner en renjaer was.
Renjaers het met hul renmotors langs die baan in gelid parkeer terwyl Oom Abie se kleinseun, Matthew, die voorreg gehad het om met sy oupa se renmotor om sy ma, Anita en oom, Eugene te ry terwyl wit ballonne in die lug vrygelaat is.
Na ‘n minuut se stilte is toesprake gelewer en ‘n spesiale liedjie is gespeel.
In die ninja midget-afdeling het HP Venter die eerste plek behaal, met Kudu van Rooyen kort op sy hakke in die tweede plek en Xander Eloff derde.
Raulph Nel het eerste geëindig in die junior stockrod-afdeling, Luan Oelofse tweede en Janco Mostert derde.
Die 1660 tintopafdeling was ‘n heel ander prentjie. Teen dié tyd was die reeds donker en het die braaivleisvure reeds hoog gebrand.
Martin Meijer eindig hier eerste, met Karlo Ruytenberg tweede en Mart Rasmussen derde.
In die 1660-gewysigde afdeling het WB van Niekerk die wenstreep eerste oorgesteek, met Raulph Nel tweede en Rudi Meijer derde.
AJ Oelofse het die eerste plek in die stockrods behaal, gevolg deur Sarel Nel en Amber Molony derde.
Haccum Hough het die eerste plek behaal in die 2.1L gemodifiseerde afdeling, gevolg deur Wian Jordaan en Adriaan Jordaan derde.
Die toeskouers en renjaers het tot laat rondom die vure saamgekuier en oor die opwindende dag gesels.











