Local News

Mokopane se Denise Uys vertel van eerste ‘Oceans’

Vandag kan Denise Uys met trots sê, sy het die Two Oceans Ultra-marathon voltooi in 56km van wilskrag, fisieke uitdaging en emosionele oorwinning.

MOKOPANE – Wat begin het as ‘n pretdraf sommer vir die lekker by die Piet Potgieter Monument Ouetehuis, het vir Denise Uys gegroei tot ‘n reis van uithouvermoë, selfontdekking en ongelooflike trots.

Vandag kan sy met trots sê, sy het die Two Oceans Ultra-marathon voltooi in 56km van wilskrag, fisieke uitdaging en emosionele oorwinning.

“Ek het nooit op skool van hardloop gehou nie,” erken sy. “Maar toe die hardloopgogga my daardie dag byt, het ek net aanhou hardloop.” Sedertdien het sy doelgerig elke jaar vir iets groots geoefen, en haar prestasie met verlede jaar se Two Oceans Halfmarathon (21.1 km) het haar geïnspireer om vir die ultra in te skryf – “net een keer”, om te kyk of sy dit kon doen.

Maar die pad was nie maklik nie. Haar voorbereiding was, in haar woorde, “sielsdodend”. Sy het aan verskeie marathons deelgeneem om te kwalifiseer, insluitend 21.1 km en 42 km-wedlope. Drie weke voor haar kwalifiseringsbyeenkoms, verbeter sy haar tyd met ‘n hele uur – en dis toe dat die Two Oceans-epos in haar e-posinboks land. “Ek kon bars van trots,” vertel sy.

Desember se oefening was moeilik, maar sy het uitgehou en aangehou. In Januarie het sy weer voluit ingespring en die laaste paar weke van voorbereiding het haar fisiek en emosioneel getoets. “Ek wou soms opgee, maar ek het iets aan myself gehad om te bewys.”

Sy beskryf die atmosfeer as iets om te onthou. “Die ‘vibe’ is iets wat jy net self moet beleef.”

Maar teen die tyd dat sy Chapman’s Peak en Constantia Nek moes aandurf, het die ware toets van deursettingsvermoë begin. “Jy’s moeg, jou bene is seer, maar dan onthou ek my oupa se woorde: ‘As jy dink jy kan nie meer nie, het jy nog 70% oor.’”

Teen die laaste drie kilometer het sy geweet sy gaan dit maak. Spiere wat pyn, krampe en ‘n warm lyf het haar nie gestuit nie. “Ek is iemand wat, as ek besluit ek doen iets, ek dit voluit doen. Moenie vir my sê ek kan nie – ek sal jou wys ek kan,” vertel sy.

Hoewel Comrades nog op haar lysie is, neem sy vanjaar ‘n blaaskans. “Daar is nog ‘n paar wedlope waarna ek uitsien om aan deel te neem – elkeen is ‘n uitdaging aan myself, nie aan ander nie. En dit gaan oor die genot van dit alles.”

Sy sluit af met ‘n groot ‘dankie’ aan almal wat haar deur die reis ondersteun het – veral haar man, Bertus, en die talle familie, vriende en kennisse wat haar op die 56 km “gedra” het.

“’n Marathon, halfmarathon of ultra is nie net oor hardloop nie – dis ‘n manier om vir jouself te bewys dat jy enigiets kan doen. Ek dra daardie medalje met trots – want ek het dit verdien.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button