Stap Weg van Lyding by N.G. Kremetart
Besoekers van die Weg van Lyding stap kan enige tyd deur die dag die roete aanpak.
POLOKWANE – Inwoners word genooi om ‘n kort pelgrimstog, bekend as die Weg van die Kruis of die Weg van Lyding (Via Dolorosa) te stap.
Die roete is op N.G. Kremetart se terrein en daar sal 12 stasies wees wat oomblikke in Jesus se lyding verteenwoordig.
Die roete is oop van 14-18 April van 09:00-18:00.
Besoekers kan enige tyd deur die dag die roete aanpak en word aangeraai om voorsiening te maak vir ‘n uur. Daar sal inligting by elke stasie wees, ‘n Bybelteks, ‘n paar vrae wat jy kan bepeins en ‘n gebed wat jy kan bid.
Ds. Tjaart Meyer van N.G. Kremetart begin die pelgrimstog in die tuin van Getsemane waar reisigers dink aan die stryd binne Jesus se gemoed.
“Jy gaan dink aan Petrus wat Jesus verloën het, en aan die kladmerke op jou eie lewe. Jy gaan jou hande soos Pilatus was, ‘n kroon van doringdraad vleg, wat jy kan saamneem huis toe, jou skouers onder die gewig van die dwarshout van die kruis, Patibulum in Latyn, indruk en jou probeer indink hoe dit sou voel om die kruis te dra nadat jy regdeur die nag gemartel is, sonder kos en water moes gaan, en meer as ‘n kilometer met die dwarshout op jou skouers moes loop.”
Jy gaan spykers in die kruis, ‘n stuk ruwe hout inslaan, want as jy eerlik met jouself is, en jy was daardie Vrydagoggend op Golgota, het jy moontlik self die hamer gevat en spykers help inslaan. Jy gaan die graf van Jesus besoek, die wit doeke oprol en by die laaste stasie aan die opstanding dink en die implikasies hiervan vir jou eie lewe.
Jy gaan ook die tekens van die Nagmaal, die brood en die wyn gebruik.
Buite op die stoep sal daar ‘n tafel met tee en koffie wees wat jy kan geniet tot die res van jou familie of vriende die Via Dolorosa deurleef het. Daar sal ook ‘n boks wees waar jy macaroni en tandepaste kan plaas wat dan aan behoeftiges geskenk sal word.
Op 17 April om 18:00 is daar ‘n Nagmaaldiens en almal is welkom om dit by te woon.
“Kom beleef dit as lede van ‘n selgroep, ‘n omgeegroep, Bybelstudiegroep, gesin, saam met jou lewensmaat of as ‘n individu. Almal is welkom en toegang is gratis.
Nooi asseblief jou vriende saam. Dit is toeganklik vir almal.”




