Local News

Onnie Amy groet onderwys-wêreld na 38 jaar

'n Bekende gesig in Mokopane, was Amy van Deventer vir jare ná skool steeds aktief besig om jong leerders met drama-afrigting te help.

MOKOPANE – Na 38 jaar in die onderwys en dramawêreld, neem Amy van Deventer afskeid van ‘n beroep wat sy met passie, toewyding en liefde beoefen het. Sy laat nie net ‘n merkwaardige nalatenskap agter nie, maar ook diep spore in die harte van personeel en leerders van verskeie skole in en om Mokopane.

‘n Bekende gesig in Mokopane, was Amy vir jare ná skool steeds aktief besig om jong leerders met drama-afrigting te help.

“Ek was ‘n stadskind en het nooit gedink ek sou in ‘n klein dorpie beland nie,” vertel sy met ‘n glimlag.

Haar loopbaan het begin as jong onderwyser by Hoërskool Piet Potgieter. Ná haar troue het sy 10 jaar op ‘n plaas gewoon en in daardie tyd by S.J. van der Merwe onderrig gegee.

In 1997 het sy haar loopbaan verder gevoer na Waterberg FET Kollege waar sy kommunikasie as vak aangebied het. Haar uitmuntende diens is bekroon toe sy landswyd as die beste kommunikasiedosent aangewys is.

Later het sy diens gedoen as studentediensbestuurder by die kollege se hoofkantoor.

In 2008 het sy teruggekeer na Hoërskool Piet Potgieter as adjunkhoof.

‘n Gunsteling herinnering uit daardie tyd was toe hul toneelgroep as een van die top 10 groepe in die land gekies is om by Aardklop op te tree tydens die ATKV-dramakompetisie – iets wat sy as ‘n loopbaanhoogtepunt beskou.

Vanaf 2015 het sy haar roeping verder gevolg by Mokopane Primary School, waar sy tussen 2019 en 2021 as waarnemende hoof opgetree het.

Vir Amy was die grootste vreugde altyd om jong mense te help om hul volle potensiaal te bereik – nie net op skool nie, maar ook in die volwasse lewe.

“Dit was altyd vir my ‘n vreugde om te sien hoe kinders hul talente ontdek en dit ontwikkel tot sukses in hul latere lewens.”

Sy glo vas dat elke posisie waarin sy geplaas is, deel van ‘n groter plan was.

“Ek glo nie ek was altyd by ‘n plek geplaas net om gelukkig te wees nie. Die Here het my daar geplaas om my nader aan my lewensdoel te bring.”

Wat sy die meeste gaan mis van skoolhou? “Die lawaai,” skerts sy. “Ek gaan die gelag van gelukkige kinders en hul spontane geselsies baie mis.”

Amy sien nou uit na haar aftrede en beplan om eers weer tyd vir haarself en haar gesin te maak.

“Ons gaan lekker vakansie hou saam met ons kinders.”

Al flikker daar reeds verskeie geleenthede op die horison, hou sy vas aan haar geloof, en aan haar lewensvers uit Filippense 4:6:

“Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles.”

Sy en haar man beplan om in Mokopane aan te bly, en inwoners sal haar beslis nog hier en daar te siene kry.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button