Polokwane neem afskeid van geliefde Hentie Fourie
Vriende en familie onthou haar as iemand wat altyd ‘n plan gehad het, selfs in moeilike omstandighede.
POLOKWANE – Die Polokwane-gemeenskap is onlangs getref deur die nuus van die skielike afsterwe van Hentie Fourie (57), ’n bekende sakevrou en geliefde familielid.
Sy was jare lank ’n vertroude gesig as eienaar van Milky Lane en Ice Berries, en het ook haar eie eiendomsagentskap bestuur.
Hentie het haar lewe in Polokwane begin en ná skool vir ’n tyd by Standard Bank gewerk.
Volgens haar seun, Chris Barnard, was haar liefde en omgee vir haar kinders en kleinkinders onbeskryflik.
“Sy het altyd uit haar pad gegaan om seker te maak haar mense is gelukkig. Sy was hulle plek van veiligheid.”
Vriende en familie onthou haar as iemand wat altyd ‘n plan gehad het, selfs in moeilike omstandighede, en as ’n vriendin wat altyd bereid was om te luister of ’n skouer te bied.
“As ’n sterk vrou met ongelooflike vaardighede, kon sy enigiets doen waarop sy haar ingestel het,” vertel hy.
Hy vertel dat haar glimlag, positiwiteit en kalmte altyd deel van hul lewe sal bly, maar dat hy veral sy ma as ’n veilige hawe en sy beste vriendin gaan mis.
“Sy het ons geleer om sterk te wees en te glo dat ons enige iets kan oorkom. Sy het altyd gesê familie is alles en ons is sterker saam.”
Hentie word oorleef deur haar kinders, Chris Barnard en Michelle Forwood, haar skoonseun Carling Forwood, kleinkinders Pieter en Emily, suster Annatjie van Staden, en haar ouers, Piet en Kotie Peens.
Haar roudiens is op 3 April gehou.




