Polokwane Wiskunde-onnie deel China-belewenis
Vir Antonette Jordaan, wiskundeonderwyser by Hoër Tegniese Skool Tom Naudé, is die vak haar passie.
POLOKWANE – Die vak wiskunde is nie almal se maat nie en vele leerders, hulle ouers en hulle vakonnies lê wakker oor die hoofbrekens wat dit kan veroorsaak.
Vir Antonette Jordaan, wiskundeonderwyser by Hoër Tegniese Skool Tom Naudé, is die vak haar passie.
Sy het in 2022 ‘n derde plek by die Annual National Teaching Awards ontvang en in 2023 ‘n tweede plek. In 2024 word sy amptelik uitgenooi om deel te vorm van ‘n groep uitgesoekte onnies wat vir drie weke na China gereis het om onder meer ‘n wiskundeseminaar by te woon.
“Ons het ‘n seminaar bygewoon oor gevorderde laer- en hoërskoolwiskundekursusse in Suid-Afrika, by die Northeast Normal University in Changchun. Ek behoort nou ook aan die Nenu alumni,” vertel sy trots.
Sy sê die ondervinding was een wat sy nie gou sal vergeet nie. “Ons het verskeie skole, universiteite en kultuurbesienswaardighede besoek. Ons het ook verskillende opleidingsessies gehad. Die emosionele aspek tussen die onderwysers en kinders in die land is baie goed.”
Sy sê die tegnologie in die land is beslis iets om oor huis toe te skryf. Die groep het die geleentheid gehad om die Groot Muur van China asook die Dragon Walk besoek.
“Die onderwysers kry die grootste respek in die land aangesien daar geglo word hulle is die fondasie vir die toekoms. Engels is verpligtend in elke skool en die ouers werk om seker te maak hulle kinders kan skool voltooi en gaan studeer. Die rede hiervoor is dat hulle weer die ouer generasie moet versorg word. Daar is wel ‘n probleem aangesien al hoe meer jongmense verkies om glad nie kinders te hê nie en met minder kinders in die klasse, verloor onderwysers hulle werk.”
Antonette-hulle moes elke aand na die dag se seminaar, navorsing doen om dan dit wat hulle geleer het vas te lê en te kan weergee. Sy het ook die kans gekry om terugvoer aan die universiteit te verskaf wat hulle in hulle bemarkingsveldtogte gaan gebruik.
“Ek het so baie geleer – van hoe om met chop-sticks te eet tot hoe om te takila. Takila is om met verkopers te onderhandel vir ‘n beter prys. Ek het ook ‘n nuwe naam gekry, wat beskerming beteken. Ek het geleer hoe om hulle taal te skryf, ‘n taal wat in karakters geskryf word.”
Antonette sê sy kan dit wat sy geleer het beslis in die klas toepas en is reeds ‘n geruime tyd besig om klein veranderinge te inkorporeer.
“Voordat ek met ‘n nuwe hoofstuk begin, doen die leerders eers navorsing. Hulle moet die verskillende aspekte aanspreek en gebruik maak van elemente soos opsommings en grafieke. Ek doen ook navorsing. Ek gee vir hulle 1978 se breinspeletjies om die ontwikkeling en liefde aan te wakker. Die kinders in China loop nie sommer klasse mis nie, hulle is baie gedissiplineerd. Dit bly uiteindelik deel van wiskunde se wenresep,” sluit sy af.




