Local News

VS-tariewe: Meeste Limpopo-boere voer na elders uit

Hoewel die VS een van Suid-Afrika se grootste handelsvennote is, maak uitvoere na die VS slegs 31% van die land se uitvoere uit en verteenwoordig die landbousegment slegs 4% van die totale uitvoere.

POLOKWANE – President Donald Trump van die VS se aankondiging dat ‘n tarief van 30% vanaf 5 April gehef sal word op goedere wat vanuit Suid-Afrika ingevoer word, is aanvanklik met skok in die landbou- en vervaardigingsbedryf ervaar maar dit blyk nou dat Limpopo as sodanig nie wesenlik geraak sal word nie, aangesien Limpopoboere nie na die VS uitvoer nie.

Hoewel die VS een van Suid-Afrika se grootste handelsvennote is, maak uitvoere na die VS slegs 31% van die land se uitvoere uit en verteenwoordig die landbousegment slegs 4% van die totale uitvoere. Verder het Trump ook ‘n heffing van 10% op alle ander lande aangekondig, wat ‘n invloed op die wêreldmarkte sal hê.

Theo de Jager, voorsitter van die direksie van die Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai) en self ‘n Limpopoboer, stel die saak in perspektief.

“Suid-Afrika voer wel wesenlike volumes neute en sitrus na die VS uit en die nuwe tariewe gaan ‘n invloed op die plaaslike landbousektor hê. Ons ding mee met die Brasiliaanse mark wat slegs met 10% belas word en die VS gaan dus eerder daardie mark ondersteun,” meen De Jager en voeg by dat pogings reeds aangewend word om die Amerikaanse mark te vervang met uitvoere na China.

“Die minister van landbou, John Steenhuisen het reeds begin om voelers uit te steek maar die vraag is of ons dié markte betyds sal kan ontgin. ‘n Pluspunt is egter dat Suid-Afrika baie kompeterend is wat kwaliteit en prys betref maar aan die ander kant het boere reeds enorme bedrae spandeer om aan die “Global Gap Good Agricultural Practices” te voldoen voordat hulle tot die globale uitvoermark kon toetree.

De Jager glo nie dat die nuwe uitvoerheffing die plaaslike markte gaan ontwrig nie, maar slegs bestemmings gaan rondskommel.

Megaboere in Limpopo het aangedui dat die tariewe nie hul bedrywighede wesentlik gaan raak nie. Marthinus de Wet van Marlo Boerdery voer tans geen produkte na die VS uit nie en is gevestig in die plaaslike mark. AL3 Boerdery is ook ‘n groot rolspeler in die mark en volgens bemarkingsbestuurder Stephanie van der Merwe voer dié onderneming ook nie produkte na die VS uit nie.

ZZ2, Limpopo se grootste sitrus- en tamatieprodusent, voer ook nie meer produkte na die VS uit nie. “Ons het klein hoeveelhede lietsjies uitgevoer, maar dis al,” bevestig Clive Garrett, ZZ2 se bemarkingsbestuurder.

Die presidensie het in ‘n verklaring gesê dat die tariefaankondiging die dringendheid van nuwe, wedersyds voordelige onderhandelinge tussen die Republiek en die VS noodsaak.

“Die tariewe wat deur die VS aangekondig is, bevestig die dringendheid om oor ‘n bilaterale en konstruktiewe handelsooreenkoms te vergader en Suid-Afrika is daartoe verbind om ‘n oplossing te vind wat vir albei partye voordelig is,” lui die verklaring.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button