Naudé se waentjie maak (koffie) golwe in Mokopane
Die man agter Tuk Tuk Brews is Naudé Teich, wat sê hy het die idee ontwikkel om mense se daaglikse roetine makliker en lekkerder te maak.
MOKOPANE – Elke oggend verskyn daar op ‘n ander hoek van Mokopane ‘n rooi tuk tuk motorfietsie met ‘n koffiewaentjie in sleep – ‘n ware oggendverrassing vir koffieliefhebbers.
Die man agter hierdie unieke mobiele koffiewinkel is Naudé Teich, wat sê hy het die idee ontwikkel om mense se daaglikse roetine makliker en lekkerder te maak.
“Ek het maar altyd snaakse idees, en partykeer moet ‘n mens dit net uitvoer,” sê hy met ‘n glimlag. “Ekonomies dryf tye ‘n mens soms om kreatief te dink om kos op die tafel te kry. Ek het besef daar is ‘n behoefte aan koffie in die oggend, iets vinnig en gerieflik vir mense wat op pad werk toe is.”
Naudé se droom het begin as ‘n klomp klein projekte met ‘n groter doel: ‘n motorfiets, ‘n waentjie en ‘n koffiemasjien.
Na baie beplanning en laataandsketse het hy alles bymekaar gesit en selfs sy motorfietslisensie gekry om wettig te kan ry.
So is “Tuk Tuk Brews” gebore – die naam wat verwys na die motorfiets en die proses van koffiebrou.
“Ons slagspreuk is ‘Our koffie is as bold as our ride’. Ek dink dit sê alles,” lag hy.
Maar dit gaan nie net oor koffie nie – met hierdie projek het Naudé ook ‘n werksgeleentheid geskep, iets wat hom na aan die hart lê.
Nou kan inwoners van Mokopane uitsien na ‘n heerlike koppie boeretroos op pad werk toe, solank hulle die rooi gevaar op die hoek raaksien.
Hou gerus dop waar Tuk Tuk Brews volgende opduik, want een ding is seker: hierdie rooi waentjie en sy geurige koffie kan jy nie misloop nie.




