Goeie pryse by Limpopo Bonsmara-veiling
Kopers het 'n wye keuse gehad tussen die 19 koeie met kalwers (drie in een), nege dragtige koeie, 51 dragtige verse en 63 oop verse.
POLOKWANE – Die jaarlikse veiling van die Limpopo Bonsmara Klub wat Vrydag by die vendusiekrale van Mockford Farms gehou is, was vanjaar ongetwyfeld ‘n kopersmark toe die hoogste prys wat vir ‘n stoetbul behaal is, maar R70 000 beloop het terwyl verlede jaar se wenner ‘n bul van plaaslike teler, JD Venter was wat teen R200 000 verkoop is aan Beefridge Bonsmaras.
Nege ander stoetbulle is verkoop teen pryse wat gewissel het van R40 000 tot R70 000, met ‘n totale bedrag van R495 000 vir die 10 lotte.
Kopers het ‘n wye keuse gehad tussen die 19 koeie met kalwers (drie in een), nege dragtige koeie, 51 dragtige verse en 63 oop verse. Die verskeidenheid van vee wat aangebied is, het ook vir boere wat ‘n belegging in stoetvee wil maak, ‘n geleentheid gebied om ‘n stewige begin te maak.

Die totale bedrag wat by vanjaar se veiling geïn is, was R3 257 000 met die gemiddelde prys van R15 444 vir oop verse, koeie met kalwers teen R22 263 en dragtige koeie teen R18 000. Dragtige koeie met kalwers het gemiddeld R25 500 gehaal en dragtige verse R19 215.
Telers Mockford Farms, JD Venter, Beefridge Bonsmaras, Bosbult Bonsmaras, Gold Creek Private Ranch, Bonsmit Bonsmaras, Neustadt Boerdery, Wenberg Bonsmaras, Mazunga Boerdery, Eendracht Bonsmaras, EBAS Boerdery en Zander Barnes het hul beste op die mark geplaas en hoewel die meeste lotte verkoop is, was daar vee wat teruggestuur is kraal toe.
Die organiseerders van die veiling het besondere moeite gedoen om besoekers met egte boeregasvryheid te onthaal en ‘n landingsplek vir ‘n helikopter is weer aangelê. ‘n Groot hoeveelheid stalletjies was ook vanjaar ‘n aantrekkingskrag.

Afslaer Craig le Roux van Vleissentraal Bosveld, wat die hamer geswaai het, was baie ingenome met die opkoms van die veiling.
Voorsitter van Limpopo Bonsmara Klub, JD Venter was ook baie tevrede met die wye belangstelling wat die veiling getrek het.
“Ons streef daarna om te waarborg dat ons kopers net kwaliteitvee aankoop en maak ons veilings die plek van keuse vir verkopers wat die beste pryse vir hul vee wil behaal en al die vee wat op die veiling aangebied is, is deur ‘n keuringspaneel onder die vergrootglas geplaas,” het Venter bygevoeg.




