‘n Ekstra geldtjie sit dalk vir Joshua ‘n miljoen in sak
Joshua Olivier, 'n gr. 9-leerder van Hoërskool Piet Potgieter, is vasbeslote om sy drome te verwesenlik en 'n miljoenêr te word.
MOKOPANE – Wie droom nie daarvan om ‘n ekstra geldjie in die sak te hê nie, en wat nog te sê van ‘n hele miljoen?
Vir sommiges bly dit net ‘n droom, maar vir ander word daardie droom ‘n doelwit. Joshua Olivier, ‘n gr. 9-leerder van Hoërskool Piet Potgieter, is vasbeslote om sy drome te verwesenlik en ‘n miljoenêr te word.
Vroeër vanjaar het Albert van Wyk, bekend uit die TV-reeks ‘Maak my ‘n Miljoenêr’, die skool besoek en leerders aangemoedig om deel te neem aan die nasionale entrepreneurskompetisie wat hy fasiliteer.
Albert, wat sy eerste miljoen reeds op 22 gemaak het, is vasbeslote om jong entrepreneurs te bemagtig en tree self as mentor op tydens die kompetisie.
Joshua het nie op hom laat wag nie. Daardie selfde dag het hy begin beplan en sommer dadelik ‘n inskrywingsvideo vir die kompetisie gemaak.
As deel van die kompetisie moes deelnemers voorgeskrewe boeke lees, onder andere ‘Rich Dad, Poor Dad’ en twee boeke deur Albert self geskryf.
Sowat 80 leerders landwyd is gekies vir die eerste ronde wat op 6 Mei in Pretoria plaasgevind het.
Joshua was een van hulle en het ‘n intensiewe werkswinkel bygewoon waar hulle meer geleer het oor entrepreneurskap – van bemarking en produkte tot finansiële bestuur en kliëntediens.
Ná die eerste opdrag, waar elke leerder hul besigheidsinkomste en -uitgawes moes dokumenteer, is 20 leerders uitgeskakel.
Joshua het dié ronde suksesvol voltooi en dring nou deur na die volgende fase wat op 24 Mei plaasvind.
In dié ronde sal deelnemers voor ‘n sogenaamde ‘brandbank’ van vyf beoordelaars verskyn en moeilike vrae moet beantwoord.
Joshua se besigheidsidee – ekstra wiskundeklasse vir gr. 1-8-leerders – is reeds aan die gang en hy doen ‘n beroep op die gemeenskap om sy onderneming te ondersteun.
Belangstellendes kan Joshua kontak by 064 887 6346 vir meer inligting of om klasse te bespreek. Help hom om sy droom te verwesenlik – dalk is ons volgende miljoenêr reg hier in Mokopane!




