Local News

Met 1 TikTok op ‘n slag raak Polokwane-dok lewens

dr. Von Ludwig van Medpark 24 se toewyding het hom onlangs erkenning besorg toe hy benoem is as Sosiale Media-invloeder van die Jaar by die Limpopo Mediese Toekennings.

POLOKWANE – In ‘n tyd waar gratis en betroubare mediese hulp skaars is, veral op sosiale media, sorg dr. Wilhelm von Ludwig van Medpark 24 dat mense nie net in Limpopo nie, maar regoor die wêreld toegang het tot geloofwaardige inligting.

Met die groei van TikTok as ‘n platform vir nuus en vermaak, het hy hierdie medium begin gebruik om gesondheidsadvies te deel in maklik verstaanbare kortvideo’s.

“Tydens Covid-19 het ek gesien hoe dokters sosiale media gebruik om met pasiënte te kommunikeer. Ek hou nie van kameras nie, maar het besluit om ‘n video oor HIV te maak. Dit het net 100 kykers gehad. Twee dae later het ek een oor griep gemaak, en toe ek die volgende oggend wakker word, was daar al 70 000 kykers. Ek was oorweldig,” vertel hy.

Vandag het hy meer as 130 000 volgers en sy video’s is al deur meer as ‘n miljoen mense ge’like’.

@doctorvonludwig Magnesium for leg cramps? #legcramps #nightcramps ♬ original sound – Doctor von Ludwig

Wilhelm plaas gemiddeld twee video’s per week en fokus op algemene gesondheidskwessies wat hy self teëkom in sy praktyk.

Hy doen deeglike navorsing voordat hy enige video maak. Hoewel sy inhoud wêreldwyd bereik word, is sy primêre gehoor steeds die mense van Polokwane en die breër Limpopogebied.

Sy toewyding het hom onlangs erkenning besorg toe hy benoem is as Sosiale Media-invloeder van die Jaar by die Limpopo Mediese Toekennings.

“Ek het nie verwag om te wen nie. Ek het nie eens ‘n toespraak voorberei nie. Toe my naam genoem word, was ek totaal oorweldig,” sê hy. “Dit is lekker om te weet mense sien wat ek doen, al het ek nooit hierop gemik nie.”

@doctorvonludwigPlease consult your local healthcare practitioner for alternatives.

♬ original sound – Doctor von Ludwig

Maar dit is nie altyd maklik nie. “Ek het al soveel negatiewe kommentaar gekry, alles van vloekwoorde tot persoonlike aanvalle. Aanvanklik het dit my geraak, maar ek het geleer om dikvellig te wees. Dis ook my raad aan ander wat hierdie pad wil stap. Een groot wanopvatting wat mense het, is dat ek baie geld maak met die videos. Dit is eenvoudig nie waar nie.”

Sy liefde vir medisyne het al vroeg begin. In gr. 6 het hy besluit om ‘n dokter te word. Hoewel hy eers oorweeg het om te spesialiseer, het hy sy elektief by ‘n algemene praktisyn gedoen en dit het hom laat besef dat dit is waar hy hoort.

Met ‘n passie vir mense, opvoeding en diens, bly Wilhelm ‘n inspirasie – op én van die skerm af.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button