3 Skuldig aan gru-moord op Roedtan-boer
Die drie beskuldigdes in die grusame moord op die 35-jarige jongboer, Nicci Janse van Rensburg van Roedtan, is Woensdag, 11 Junie op al die aanklagtes skuldig bevind in die Polokwane Hooggeregshof.
Kits-opsomming
- Die moord het op Vrydag, 7 Oktober 2022 plaasgevind op die plaas Derdekraal naby Roedtan.
- Volgens die ondersoek het vyf verdagtes glo op die plaas opgedaag in ‘n wit sedan onder die voorwendsel dat hulle melk wil koop.
- In daardie stadium was daar slegs ‘n minderjarige seun op die perseel.
Volledige storie
MOKOPANE – Die drie beskuldigdes in die grusame moord op die 35-jarige jongboer, Nicci Janse van Rensburg van Roedtan, is Woensdag, 11 Junie op al die aanklagtes skuldig bevind in die Polokwane Hooggeregshof.
Vonnisoplegging is op Woensdag, 18 Junie.
Die Vryheidsfront Plus, wat die verrigtinge bygewoon het, het weer hul beroep herhaal dat plaasmoorde as hoëprioriteitsmisdade geag moet word.
Volgens Marita Louw van die VF Plus is dit duidelik dat aanvalle soos dié nie net individue en hul gesinne tref nie, maar ook die hele gemeenskap, voedselsekerheid en landelike stabiliteit in Suid-Afrika in die gedrang bring.

“Hierdie saak het wyd aandag getrek weens die gewelddadige aard van die misdaad en die impak wat dit op die plaaslike boerderygemeenskap gehad het.”
Die beskuldigdes, Malasela Mangena, Velly Segwale en Lesiba Segwale, staan tereg op klagtes van moord, poging tot moord, gewapende roof, en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.
Lees meer: Een vasgetrek vir die moord van ‘n jong boer in Roedtan
Die moord het op Vrydag, 7 Oktober 2022 plaasgevind op die plaas Derdekraal naby Roedtan.
Volgens die ondersoek het vyf verdagtes glo op die plaas opgedaag in ‘n wit sedan onder die voorwendsel dat hulle melk wil koop.
In daardie stadium was daar slegs ‘n minderjarige seun op die perseel.
Die seun is in die huis oorrompel en met kabelbinders vasgebind.
Kort daarna het Janse van Rensburg en sy vriendin, Veronica Grobler, by die huis opgedaag en op die verdagtes afgekom. Wat daarna gebeur het, is nie volledig bekend nie, maar dit blyk dat ‘n gewelddadige konfrontasie ontstaan het.

Die verdagtes het die twee met vuurwapens aangehou, geld geëis en Janse van Rensburg wreed gemartel. Hy is later in die kop en knie geskiet nadat hy glo sy kluissleutels moes oorhandig.
Die aanvallers het met selfone, rekenaartoerusting, vuurwapens en ander waardevolle items gevlug.
Grobler en die seun kon eers die volgende dag hulp ontbied.
In die nasleep van die voorval het die gemeenskap en boere van regoor die streek opgeruk na Roedtan in solidariteit en protes.
Strate was gevul met bakkies, trokke, perde en trekkers. Baniere is oral vertoon en gemeenskapslede het ‘n duidelike boodskap gestuur: genoeg is genoeg.




