Familie en vriende betreur Johanco van Niekerk se heengaan
Johanco van Niekerk (22) word oorleef deur sy ouers, grootouers en 'n stiefsuster, Cherine Potgieter.
POLOKWANE – ‘n Jongman wat baie mense in die plaaslike gemeenskap se lewens aangeraak het, Johanco van Niekerk is verlede Woensdag in die ouderdom van 22 jaar ná ‘n massiewe hartaanval oorlede.
Van Niekerk was as ‘n plaasbestuurder by Koos van Amstel buite Vivo werksaam en was ‘n oudleerder van Hoërskool Pietersburg.
Sy ouers, Ilna en Eben van Niekerk is veral in polisiekringe bekend en sy grootouers Johan en Bossie van Niekerk is jarelange inwoners van die stad.
Sy ander ouma, Ina Leijenaar, woon in Swakopmund in Namibië.

Volgens Ilna het Johanco vroeër verlede maand genoem dat hy ongemak met asemhaling ondervind en probleme met sy hartritme en ‘n geruis is geïdentifiseer maar hy het dit nie nodig geag om in die hospitaal opgeneem te word nie omdat hy tans besig was om te oes op die plaas.
Hy het wel medikasie geneem en is deur sy huisdokter gemonitor.
“Ons lewe het voortgegaan en ons het die naweek voor sy heengaan nog op die plaas gaan braai en ek het agtergekom dat hy anders as gewoonlik optree; baie stil en asof iets hom gepla het. Hy het ook op twee geleenthede vir my en Johan gesê hoe lief hy ons het,” vertel Ilna.
“Ons het Woensdagaand berig ontvang dat hy nie wel is nie en ‘n hartaanval op die plaas gehad het. Reëlings is getref om hom dadelik na Polokwane te voer maar hy is intussen oorlede.”
Ilna sal Johanco onthou as ‘n kind wat sy ouers baie trots gemaak het.
“Hy was ‘n opgewekte mens wat almal om hom goed laat voel het en was baie gewild en gerespekteerd onder die werkers op die plaas. Hy het so mooi vir ons gesorg en ek het nie woorde om te beskryf hoe groot ons verlies is nie,” sê Ilna en voeg by dat sy en Eben hul seun se nagedagtenis sal eer deur ander ouers wat onder dieselfde omstandighede is, te ondersteun.
“Luister na wat jou kinders vir jou sê, hulle is net vir jou geleen.”
Hy word oorleef deur sy ouers, grootouers en ‘n stiefsuster, Cherine Potgieter. ‘n Troosdiens het vandag om 11:00 in die N.G Kerk Pietersburg-Noord gehou word.




