Waak so teen veldbrande
Met die gras in dele van die dorp en omliggende kleinhoewes wat droog is, breek daar gereeld 'n veldbrand uit.
POLOKWANE – Veldbrande is nie ‘n rare verskynsel in Polokwane nie: Sedert begin Junie is daar meer as 10 veldbrande in die stad op die noodgroepe aangemeld.
Met die gras in dele van die dorp en omliggende kleinhoewes wat droog is, breek daar gereeld ‘n veldbrand uit.

Adv. Johan Jonck van Arrive Alive herinner lesers dat indien veldbrande nie beheer word nie, dit eiendom kan vernietig. Dit hou ook gevaar vir mense en diere wat in die omgewing woon, in.
“Hierdie risiko’s sluit nie net die brand self in nie, maar ook veiligheidsrisiko’s vir padgebruikers. Die rook veroorsaak swak sigbaarheid en daar is die gevaar van rookinaseming.”
Volgens Jonck is daar twee soorte veldbrande, naamlik natuurlike brande en onnatuurlike brande.

Natuurlike brande is meer seisoenaal en word gewoonlik deur weerlig veroorsaak.
As gevolg hiervan vind hierdie brande gewoonlik in die reënseisoen plaas.
Onnatuurlike brande word bewustelik of onbewustelik deur mense veroorsaak.
Hierdie brande vind meer gereeld as natuurlike brande plaas en vind gewoonlik in die droë seisoene plaas.
“Moenie die oorsaak van hierdie lewensgevaar wees nie. Moenie brandende sigaretstompies weggooi of ‘n oop vuur onbewaak laat nie.”




