Motorgeesdriftiges bederf met 120+ versamelstukke
Die Klassieke Motorskou was ‘n trekpleister vir talle motorliefhebbers verlede naweek.
POLOKWANE- Die Limpopo Classic Car Club se Wheels Expo wat Saterdag by Mall of the North aangebied is, was ‘n opwindende hoogtepunt van die naweek se sosiale aktiwiteite en motorgeesdriftiges kon hulle verlustig in meer as 120 versamelstukke.
Uitstallers van klubs regoor die land is uitgenooi om met hul voertuie te kom spog en die geleentheid was nie net ‘n klassieke motorskou nie, maar ook ‘n gesinsvriendelike dag met ‘n verskeidenheid klassieke motors, insluitend sportmotors, tesame met musiek, kinderaktiwiteite, kosstalletjies en meer.
Volgens die klub se voorsitter, Gustaf Tiersma, was die byeenkoms ‘n prestige geleentheid wat die potensiaal het om tot die grootste in die land te ontwikkel.
Volgens Tiersma was die geleentheid vanjaar daarop gemik om die belangstellingsgebied te vergroot en om die jonger geslag te lok.
Toegang tot die skou was gratis en enigiemand met ‘n klassieke voertuig was welkom. Daar was ook uitstallings van verwante toebehore en mini-renmotors en kragfietse wat verseker het dat daar ook iets vir die jonger garde te sien was.
“Ons sien uit na aanstaande jaar se skou wat nog beter en groter sal wees. Op 29 Augustus bied die klub ook oudergewoonte ons ‘Gentleman’s Drive’ vir voertuie wat ouer as 40 jaar is, in die stad aan. Verdere besonderhede sal binnekort beskikbaar wees,” sê Tiersma.









