Odendaalgesin: ‘n Storie van tragedie én hoop
Die Odendaal-gesin het in Maart 2024 binne enkele minute hul lewens, tydelike mobiliteit én geliefdes verloor.
POLOKWANE- ‘n Ongeluk gebeur in ‘n oogwink en bring dikwels lewensveranderende gevolge.
Niemand beplan daarvoor nie, en niemand vra daarvoor nie.
Meestal is die eindresultaat verlies van lewe, mobiliteit of eiendom. Soms spruit daar egter ook iets goeds uit: ander mense se lewens word gered.
Die Odendaal-gesin het in Maart 2024 binne enkele minute hul lewens, tydelike mobiliteit én geliefdes verloor.
Cornie Odendaal het saam met haar man, Gideon, en hul jongste dogter, Riana (38), Pretoria toe gereis om Gideon se ma se 105de verjaardag te vier.

“Ons het vroeg die oggend gery en was teen vyfuur op pad terug. Die volgende oomblik kom ‘n voertuig van voor af, ons kon niks doen nie,” onthou sy die tragiese dag.
Kort ná die botsing het Riana, wat agter haar pa gesit het, nog gesê sy is reg, al voel dit of “naalde en spelde” in haar bene steek. Gideon kon nie beweeg nie, en Cornie het gesukkel om asem te kry.
“Kort daarna was ons al drie bewusteloos. Ek onthou niks van die eerste week in die hospitaal nie. Riana was 10 dae in ‘n koma voor sy oorlede is, en Gideon het vyf maande in intensiewe sorg in Millpark deurgebring, maar sy liggaam kon dit uiteindelik nie hou nie. Ek was self ‘n maand lank in die hospitaal in Polokwane. Dit was baie moeilik om my groot, sterk man so magteloos te sien lê,” vertel Cornie.

Cornie en Gideon se ander kinders, Anél Swart en Deon, het onderskeidelik vanaf Letsitele en Engeland gekom om haar by te staan.
Hulle het ontdek dat Riana ‘n plakker in haar ID gehad het wat aangedui het sy is ‘n orgaanskenker.
“Ek was nie in staat om besluite te neem nie, maar my kinders het my op hoogte gehou. Een nag het ek gebid dat as die Here haar wil kom haal, Hy dit vinnig moet doen, ek wou nie hê sy moet maande lank in ‘n koma lê nie.”
Toe Anél en Deon op ‘n dag besluit om die masjiene af te skakel, het hulle by Cornie ingestap, maar teen daardie tyd was Riana reeds oorlede.

“Ek het vir hulle gesê dit is reg, al was dit aaklig. Haar organe is geskenk, en ook haar pragtige koperkleurige hare – aan Kansa. Dit was nooit ‘n verrassing dat sy so iets sou doen nie.”
Gideon het sy 74ste verjaardag in die hospitaal gevier en die egpaar het kort tevore hul 50ste huweliksherdenking gevier. Vyf dae later is Gideon se 105-jarige ma ook oorlede.
Cornie vertel dat sy groot steun by haar familie en vriende gekry het.
“Dit was kosbaar om te sien hoe my kinders as volwassenes ‘n krisis hanteer. Anél het baie gehelp met administrasie en versekeringsake. Ek het geleer dat jou papierwerk reg moet wees, en dat jy jou eie bankrekening moet hê want lewensversekering neem lank om uit te betaal, net soos ‘n boedel wat maande kan sloer.”
Die opeenvolgende begrafnisse het Cornie die waarde van sulke rituele laat besef. “Ek het nooit besef hoe belangrik ‘n begrafnis is nie want dit bring berusting. By Riana se diens was dit mooi om haar vriende se stories te hoor. Selfs my 70ste verjaardag het vir my betekenis gekry want dit was die laaste keer wat my ma en ek saam gekuier het voor sy oorlede is.”
Cornie sê sy het reeds haar eie begrafnis gereël en betaal. “Ek wil nie hê my kinders moet eendag met daardie laste sit nie.”
Hoe om ‘n orgaanskenker te word:
Enigiemand wat goeie gesondheid het en nie aan ‘n kroniese siekte wat die ontvanger negatief sal beïnvloed, ly nie, kan ‘n orgaanskenker wees.
Registreer aanlyn by https://odf.org.za/registration-landing-response/ of kontak die Organ Donor Foundation se tolvrye nommer by 0800 22 66 11.




