‘n Ruimte waar skoonheidsbehoeftes gepamperlang word
Marianka se visie vir die onderneming is om 'n ruimte te skep wat gerieflik is vir elke vrou se skoonheidsbehoeftes en om alles aan te bied wat modieus is in die bedryf.
MOKOPANE – In die lig van Augustus as Vrouemaand het Bosveld met die dinamiese besigheidsvrou Marianka Smit (28) gesels oor haar inspirasie en uitdagings.
Marianka is in Mokopane gebore en grootgemaak en het in 2015 aan Hoërskool Piet Potgieter gematrikuleer. Sy vertel geesdriftig dat sy B.Com bedryfsielkunde by Tuks studeer het en vir die liefde van die saak ook aanlyn by die NY Makeup Academy grimering bestudeer het.
“Ek het ‘n liefde gevind wat ander dames goed laat voel,” sê Marianka en voeg trots by dat sy uit haar eerste grimeringklient R150 wins gemaak het. “Ek onthou ek was so opgewonde. Ek het die R150 gevat en 10 mascaras gaan koop om te verkoop – en so is Atlantis Cosmetics gebore. Eerstens aanlyn, en in September 2020 het ek my eerste winkel in Mokopane Mall oopgemaak.”
Marianka staan nie terug vir uitdagings nie. Haar visie vir die onderneming is om ‘n ruimte te skep wat gerieflik is vir elke vrou se skoonheidsbehoeftes en om alles aan te bied wat modieus is in die bedryf.
Sy en haar span fokus op skoonheidsdienste soos naels, gesigbehandelings, masserings, waksbehandelings, wimperverlengings, sowel as die verkoop van kosmetiese en holistiese produkte.
“Ons samelewing en sosiale media het ‘n onrealistiese beeld geskep van ‘selfmade’ en dat elke besigheid ‘n groot naam moet wees. Ek wil hê elke besigheidsvrou moet weet dat dit goed en reg is om klein te begin.
“Doen wat jy kan met wat jy het, en omring jouself met vroue wat mekaar ondersteun. Ons hoef nie mekaar se kompetisie te wees nie, ons kan mekaar se cheerleaders wees!”




