Ryno Brooks vang geskiedenis vas deur lens
Vir Ryno Brooks loop fotografie en geskiedenis hand-aan-hand.
POLOKWANE – ‘n Foto vertel ‘n duisend stories, maar ‘n goeie storie kan ook ‘n pryswennerfoto oplewer.
Vir Ryno Brooks loop fotografie en geskiedenis hand-aan-hand.
“Ek was nog altyd lief vir geskiedenis, maar dit was eers op hoërskool dat ek regtig dieper begin belangstel het,” verduidelik hy.
Ryno is in die Vrystaat gebore, maar sy gesin het na Polokwane verhuis toe hy nog ‘n baba was.
Ná skool het hy by ‘n koeriermaatskappy gewerk, maar in 2023 het hy besluit om van loopbaan te verander.
Sy verloofde, Susan van Jaarsveldt, glo sterk in sy vermoë as fotograaf en storieverteller en prys gereeld sy besondere oog vir detail.
Sy het ook vir hom sy eerste kamera gekoop.
“Susan het vir my gesê ek moet doen waarvoor ek lief is, en so het die gogga my gebyt. Ek word gemotiveer deur oomblikke vas te vang, veral historiese plekke, met die vrees dat ons kinders dit eendag nooit self sal kan sien en ervaar nie.”
Ryno vertel dat hy al baie plekke besoek het, lank voordat sy liefde vir fotografie hom spesifiek na historiese bakens gelei het.
“Ek wil graag weer Pretoria se Kerkplein besoek. Die Moorddrif-monument het my veral ook diep geraak. Die storie wat op die graniet uitgekerf is, het ‘n emosionele snaar by my getref, naamlik die pyn om te besef wat mense in die vorige eeu deurgemaak het. Baie keer ontdek jy ook nuwe dinge tydens sulke besoeke. Een monument lei jou dikwels na ‘n ander waarvan jy nie eens geweet het nie.”
Volgens hom lê die grootste verrassing daarin dat geskiedenisboeke soms nie ooreenstem met moderne weergawes van stories nie.
Dit dryf hom om self verder ondersoek in te stel.
“Om die geskiedenis of die storie van ‘n plek oor te dra, moet jy tyd op die grond in daardie omgewing deurbring. Só leer jy wat historici wou hê mense moes verstaan. Daarna probeer ek my eie foto inkorporeer in dit wat die verlede vandag nog vir ons probeer sê.”
Die boodskap wat Ryno met sy foto’s wil oordra, is die alledaagse lewe, nie waar mense poseer nie.
“Oomblikke word vasgevang in tyd, en die lens moet daardie boodskap dra. As jy doen waarvoor jy lief is, behoort dit altyd ‘n indruk op mense te laat. Daarom wil ek my foto’s so wyd moontlik versprei, met die hoop dat die regte mense dit sal raaksien. Ek hoop ook dat besighede betrokke sal raak en skenkings sal maak.”




