Local News

Na 58 jaar, groet Tokkie haar Bennie (79)

Tokkie Botes onthou hoe lief Bennie vir kamp was en dat hulle oorweeg het om 'n motorhuisvoertuig te koop en dan deur die land te reis.

POLOKWANE – Na 58 jaar en drie maande moes Tokkie Botes haar man, Bennie, onlangs groet na hy op 25 Augustus oorlede is.

Sy vertel hartseer hoe Bennie haar nog gesoengroet het voor hy inmekaar gesak het.

“Hy was 79 jaar oud en die oorsaak van sy dood was van natuurlike oorsake.”

Die paartjie het in 1965 ontmoet en is in 1975 getroud. Tokkie vertel sê sy glo die Here het hulle bymekaar gebring.

“Sy pa was ‘n pastoor in Mokopane en ek het daar by Hoërskool Piet Potgieter gewerk. Ek het een aand tydens ‘n speletjiesaand by die kerk, gehardloop en oor sy voet geval en my been gekraak. Ek het gewoonlik werk toe gestap, maar met die gekraakte been moes ek van rygeleenthede gebruik maak. Bennie het by NTT gewerk en my verhuurder het hom aangesê om my werk toe te neem. So het ons mekaar beter leer ken.”

Bennie Botes (79).

Sy vertel hulle was gou geheg aan mekaar en het alles saam gedoen, “van roomys eet op Sondae tot ‘n pastei en Fanta onder ‘n koelteboom geniet”.

Bennie is in Bloemhof gebore en het in Edenvale grootgeword.

Omdat sy pa ‘n pastoor was, het hulle baie verhuis en hy het sy skoolloopbaan by Hoër Tegniese Skool Tom Naudé voltooi. Nadat hy in 1963 matriek geslaag het, is hy weermag toe.

Hy het as motorwerktuigkundige vakleerling by NT Trekkers begin werk en ná twee jaar sy handelstoets geskryf.

“Naas my was sy grootste liefde ‘n Massey Ferguson. Hy het gereeld in die bos, sommer onder ‘n boom in Botswana, aan trekkers gewerk. Later het hy besluit om ook met motors te ry en hy het vas geglo daar is geen ander voertuig as ‘n Toyota nie.”

Tokkie onthou hoe lief Bennie vir kamp was en dat hulle oorweeg het om ‘n motorhuisvoertuig te koop en dan deur die land te reis.

“Hy was ‘n liefdevolle, omgeemens, teenoor my en ons kinders. Hy het nooit sy hand of stem teenoor ons gelig nie. Ons was werklik gelukkig getroud.”

Sy onthou hoe hy haar, ‘n plaasmeisie van Levubu, meer van die lewe geleer het en dat haar bed en huis nou leeg is.

“Ek mis die tik-tok van sy kierie na die badkamer en oral in die huis. Jou teenwoordigheid in my lewe sal vir ewig gemis word.”

Bennie is op 4 September vanuit die Taberna Dei Moederkampus begrawe. Hy word oorleef deur Tokkie, sy kinders en kleinkinders.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button