Kom proe dié lekker wyne by die Pietersburg Klub
Die wyne wat beskikbaar sal wees, word netjies in lotte reggepak en ‘n plaaslike afslaer gaan kopers aanmoedig om hul hande diep in hul sakke te steek.
POLOKWANE – Die Vryburgers van Pietersburg en Tafelronde Pietersburg 22 se wynveiling vir liefdadigheid wat eerskomende Donderdagaand (23 Oktober) by Pietersburg Klub aangebied word, bied ‘n geleentheid om ‘n winskopie of twee op te raap en van die wyne wat aangebied word is ook versamelaarsitems wat nie misgekyk kan word nie.
Die wyne wat beskikbaar sal wees, word netjies in lotte reggepak en ‘n plaaslike afslaer gaan kopers aanmoedig om hul hande diep in hul sakke te steek.
Die gewildste kopies verlede jaar was drie “vaatjies” wyn wat elkeen 300 bottels bevat het en elkeen net minder as R40 000 elk gehaal het. Die kopers word is eie keuse gelaat om die bottels van hul eie etikette te voorsien.
‘n Vyfliterbottel rooi jerepigo van Langeberg Winery het R2 900 gehaal, terwyl ‘n lot wat ‘n Van Loveren 1,5l Shiraz The Last One, ses bottels Bon Courage 2021 Limited Shiraz, ‘n Wolfendrift 2023 Muskadel en twee bottels KWV 5jr brandewyn bevat het, teen R7 000 van die hand gesit is.
‘n Gelukkige koper het R9 000 betaal vir ‘n Van Loveren 1,5l Shiraz The Last One, 12 bottels Five’s Reserve Brandewyn en ses bottels babelaaswater.
Daar was ook genoeg wyn vir die allerdaagse verbruiker teen winskooppryse.
Voorsitter van Tafelronde 22, Hennie Meyer nooi die publiek uit om die geleentheid by te woon.
“Verversings word verskaf en daar sal geleentheid wees om lekker te kuier,” sê Meyer.
Die liefdadigheidsprojek is ‘n spanpoging van die Vryburgers van Pietersburg en Robertson en Tafelronde Pietersburg 22 en vanjaar se opbrengs sal oudergewoonte aan liefdadigheidsorganisasies in Polokwane en die Robertsonomgewing geskenk word.




