Van Niekerk-broers sit voet neer om Mokopane-ovaalbaan
Die van Niekerk broers sal weer aan die NHT se finale ronde op 4 November in Vereeniging deelneem.
MOKOPANE – Die enjins het vroeg begin brul op die ovaalbaan buite die dorp tydens nog ‘n opwindende byeenkoms van die Bosveld Wedrenklub.
WB van Niekerk, een van die klub se top-renjaers, het op 20 September aan die Suid-Afrikaanse 1660-kampioenskap op Rietkuil Raceway deelgeneem en daarin geslaag om tweede te eindig, wat hom die nasionale titel van SA nr. 2 besorg het.
Ongeveer 35 renjaers van regoor die land het in dié kampioenskap meegeding.
WB en sy broers, Rian en Edwin, het kort daarna op 27 September by Mahem Raceway aan die National Hotrod Tour (NHT) deelgeneem.

WB het derde geëindig in die pro-afdeling, Rian tweede in die pro-am-afdeling en Edwin derde in dieselfde kategorie.
Die broers se passie vir wedrenne het volgens WB van hul ouers gekom.
“My pa het met die sport begin, en die gogga het ons gebyt toe ons nog klein was. Vanjaar het ons groot hoogtes bereik – ons was konstant in die top drie van die kompeterende klas van SA en is trots op wat ons vermag het. Volgende jaar mik ons vir die nommer een-posisie,” sê hy.
Die van Niekerk broers sal weer aan die NHT se finale ronde op 4 November in Vereeniging deelneem.
By Saterdag se plaaslike byeenkoms het WB weer sy staal gewys deur eerste te eindig in die 1660 gemodifiseerde afdeling. Banie Oelofse was tweede en Raulph Nel derde.

In ander uitslae het AJ Oelofse die stockrods gewen, Raulph Jnr Nel die junior stockrods, en Adriaan Engelbrecht die 1660 Tintop-afdeling. Karlo Ruytenberg was tweede en SJ Pieters derde.
Wian Jordaan het skoonskip gemaak in die 2.1l gemodifiseerde afdeling.

Die ninja midgets het die aand terdeë geniet en die toeskouers het gejuig oor die jongklomp se bestuursvernuf.
HP Venter was eerste oor die wenstreep met Zander Eloff kort op sy hakke en Kudu van Rooyen derde.
Die Bosveld Wedrenklub het alle deelnemers en toeskouers bedank vir nog ‘n suksesvolle dag. Die volgende wedren vind plaas op 29 November.







