Vermiste pa: Dogter van Polokwane wil weet of hy ‘okay’ is
Sunette van Zyl het haar pa, Jan Johannes (Seun) van Zyl (53), laas in 2021 gesien en sê sy leef nog steeds met die onsekerheid oor sy welstand.
POLOKWANE – “Ek wil net weet of hy okay is”.
Sunette van Zyl het haar pa, Jan Johannes (Seun) van Zyl (53), laas in 2021 gesien en sê sy leef nog steeds met die onsekerheid oor sy welstand.
Jan is handig met sy hande en doen loswerk, maar het deur die jare gesukkel met dwelmverslawing, vertel sy.
“Ek het hom eendag by 7-Eleven raakgeloop en skaars herken. Hy was ‘n groot man, maar die dwelms het hul tol geëis,” vertel Sunette.
Sy sê dat haar pa het al verskeie kere in en uit rehabilitasiesentrums was.
Sunette het keer op keer by die polisie aangeklop, maar sê hulle het net gesê hulle sal dit uitsorteer. Sy het ook sosiale media probeer, maar kon niks uitvind nie.
“Die dag toe ek hom raakgeloop het, het hy gesê ons moet die volgende dag weer ontmoet, maar hy het nie opgedaag nie. ‘n Paar maande later het ek ‘n boodskap op Facebook van ‘n vreemde man gekry wat sê: ‘Hi Sussa, Dis Pappa, hier is my nommer, kontak my per WhatsApp.’
Toe ek hom kontak, het ek by ‘n vreemde man uitgekom. Later het hy vir my ‘n foto en ‘n stemboodskap gestuur waarin hy sê hy is lief vir my en sal sy hande af veg vir my,” sê Sunette.
Sy vermoed haar pa hou afstand van haar en haar kinders om hulle te beskerm teen moontlike gevaar.
Voor hy vermis geraak het, het hy by ‘n skuiling gebly, en dit is die eerste plek waar sy na hom gaan soek het.
“Ek wil hê hy moet vir my sê wat gebeur het en hoekom hy weg is. Hy het onlangs verjaar, en dit was moeilik vir my. Ons het ‘n ongeskrewe reël dat wanneer een van ons verjaar, stuur die ander ‘n verjaarsdagboodskap. Hierdie is die vierde jaar wat daar geen boodskap was nie,” sê sy.
Indien jy moontlik vir Sunette kan help, kontak haar by vanzylsunette0801@gmail.com.




