Slegs paar dae oor vir winskopies by Lentemark in Polokwane
Die 12de jaarlikse Lentemark by die N.G. Kremetart het op 29 Oktober afgeskop en eindig hierdie Saterdag om 19:00.
POLOKWANE – Die 12de jaarlikse Lentemark by die N.G. Kremetart is ‘n gulde geleentheid om saam met vriende of familie te kuier en terselfdertyd Kers- en verjaarsdaggeskenke te kan koop.
Die mark het op 29 Oktober afgeskop en eindig hierdie Saterdag om 19:00.
Vanjaar het verskeie nuwe uitstallers by die mark aangesluit met ‘n verskeidenheid items. Plantliefhebbers kan kies uit verskeie plante om hulle tuin hierdie lente te versier.
Een van die nuwe uitstallers het seep en badprodukte van natuurlike middels op die tafel uitgepak en daar is ook grimeersakkies, pennesakkies, klere en 3D-skeppings.

Handgemaakte items soos juwele, sleutelhouers, poppe, houtrame, gebreide speelgoed, houtitems en skinkborde is beskikbaar en daar is ook Indiegegeurde souse en speserye, ingelegde kwepers en tuisgemaakte tamatiekonfyt.
Gebak sluit in vrugtekoeke, kleinkoekies en suurdeegbrood, 2D-suigstokkies, beskuit, soetighede en rissiesouse.
Besoekers aan die mark het elke aand ‘n ander spyskaart vir die buffetete asook ‘n spyskaart vir wegneem en aansitetes wat in die restourant geniet kan word.

Geen Lentemark kan gehou word sonder tweedehandse boeke en ‘n witolifanttafel nie.
Ilse-Marie Beetge van Cake-Tastic bied Saterdag ‘n werkswinkel aan wat jou leer hoe om kolwyntjieblombosse te maak.




