Nuwe vereistes maak dit moelik vir Polokwane-babahuis
Ngwana Babahuis het onlangs gehoor dit is nou 'n vereiste dat al die werkers CYCW kwalifikasies moet hê, anders kan die departement besluit om nie die her-registrasie aansoek goed te keur nie.
POLOKWANE – Ngwana Babahuis, die tuiste van bykans 30 babas tussen geboorte en twee jaar oud, het sy deure in 2006 geopen en is die enigste instansie in die provinsie wat slegs babas huisves.
Michelle van der Westhuizen, die projekbestuurder van Ngwana Babahuis, verduidelik dat ander instansies soms ook babas inneem, maar as deel van groter gesinne, wat beteken dat ouer kinders ook teenwoordig is.
“Ander instansies word nou gedwing om babas in te neem omdat daar probeer word om boeties en sussies bymekaar te hou,” sê sy.
Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling vereis nou dat die kinders se primêre versorgers by Ngwana Babahuis kwalifikasies in kinder- en jeugwerk (CYCW) moet hê.
“Die departement het reeds drie jaar gelede begin praat oor opleiding en ons moes name van kandidate aan die departement gee wat eerste opgelei sou word. Tot vandag toe is daar nie verder werk gemaak daarvan nie. Toe ons in November 2024 aansoek doen vir herregistrasie, het ons gehoor dit is nou ‘n vereiste dat al die werkers hierdie kwalifikasie moet hê, anders kan die departement besluit om nie die her-registrasie aansoek goed te keur nie. As die her-registrasie onsuksesvol is, kan dit gebeur dat die subsidie gesny word wat moontlik tot gevolg sal hê dat ons deure gesluit kan word.”
Ngwana Babahuis het ‘n voorlopige herregistrasie ontvang en moet nou weer aansoek doen. Die werkers moet ook elke twee jaar ‘n noodhulpkursus voltooi. Van der Westhuizen sê: “Die noodhulpkursus beloop R11 000 vir ons 17 werkers. Ons moes eers probeer om die CYCW-kursus af te handel om seker te maak die huis kan oop bly.”
Alhoewel Ngwana Babahuis staatssubsidies ontvang, is daar maandeliks ekstra finansiële druk. Salarisse vir werkers, mediese onkostes, instandhouding van geboue en voertuie vereis ekstra onkoste.
“Ons moes herstelwerk aan badkamers en die kombuis doen en kon reeds gedeeltes daarvan voltooi te danke aan skenkings en donasies. Ons is baie dankbaar vir hierdie ondersteuning. Daar is mense wat elke maand ‘n bedrag skenk en ander wat van maand tot maand bydra. Die Here voorsien werklik soos wat behoefte opduik,” sê sy.
Lesers wat wil help, kan Van der Westhuizen by michelledp60@gmail.com kontak.




