Local News

Polokwane bank vas agter Stephan met die oog op groen en goud

Stephan het onlangs, die opwindende nuus ontvang dat hy verkies is tot die o/17-Elite Spelerontwikkelingspan.

POLOKWANE – Vandat hy kan onthou, het Stephan Jansen van Rensburg al daarvan gedroom om rugby te speel.

Hoewel hy sy eerste stappe in bulletjierugby gemaak het, het dié droom egter tydens sy laerskooljare effe op die agtergrond verdwyn – net sodat hy sy buiging in die hoërskool kon maak as ‘n speler om mee rekening te hou.

“In gr. 8 by Hoërskool Pietersburg het ek aanvanklik in die B-span gespeel. My pa het my by ‘n gimnasium ingeskryf, en van daar af het ek elke dag geoefen om beter te speel,” vertel hy.

Stephan het onlangs, so op die vooraand van sy 17de verjaardag volgende week, die opwindende nuus ontvang dat hy verkies is tot die o/17-Elite Spelerontwikkelingspan – ‘n span jong talent wat geïdentifiseer en ontwikkel word met die oog op toekomstige junior Springbokke.

“Toe ek die nuus kry, het ek gevoel ek kry uiteindelik my kans om my droom uit te leef,” vertel hy trots.

Hierdie vyfjaarprogram hou nie net by Cravenweek op nie; spelers word reeds vanaf o/15 dopgehou en geleidelik gevorm vir professionele rugby.

Hy speel op vasskopstut (nommer drie) en het reeds drie jaar se provinsiale rugby-ervaring agter die rug, insluitend die o/15-Rhinoweek, o/16-Grant Khomoweek en vanjaar die Cravenweek.

Stephan se pad was egter nie sonder uitdagings nie.

Net voor die Cravenweek het hy ‘n besering opgedoen en was onseker oor of sy knie reg sou wees vir die wedstryde. “Dit was die moeilikste en onsekerste tyd van my lewe,” erken hy. Tog het die motivering van sy afrigter, Corstiaan Vermaak, en die ondersteuning van sy familie hom deur moeilike oomblikke gehelp.

Pa Chris, wat skoolhoof by Northern Academy is en ma Lisa, oud-Ericajuffrou en deesdae die musiektannie, sê hulle harte loop behoorlik oor van trots.

“Ons sit met ‘n knop in die keel en ‘n hart wat wil bars van trots. Stephan het ongelooflik hard gewerk om te kom waar hy is, met ’n deursettingsvermoë en selfbeheersing wat ons telkens verstom. Hy weet presies wat hy wil bereik, en hy jaag sy drome met ’n vasberadenheid na. Ons sien elke dag hoe hy opstaan, al is hy moeg, al is hy seer en hoe hy kies om weer te probeer. Dit is die soort karakter wat nie aangeleer kan word nie; dit is net wie hy ís.”

As ouers is hulle oneindig dankbaar dat hulle die reis saam met hom kan stap.

Chris ondersteun hom op die veld en voor die skrum, en Lisa dra die emosionele en geestelike anker. “Ons is ‘n span, en Stephan is die bewys van wat liefde, dissipline en geloof kan bou.”

Lisa vertel dat hy nog altyd mal was oor rugby. “In die laerskool kon geen mondeling of praatjie sonder rugby klaarkom nie – of dit nou oor ’n dier of ’n droomvakansie moes gaan, rugby het altyd sy weg ingesluip. Ons is dankbaar vir die talent wat ons Hemelse Vader vir hom gegee het, en ons glo met ons hele hart dat God groot planne het vir Stephan en sy rugbyloopbaan.”

Stephan vertel dat sy rolmodel Wilco Louw is, wat dieselfde posisie speel.

Sy raad aan jong spelers is eenvoudig maar kragtig: “Hou aan hard werk, al is jy moeg. Jy sal die vrugte daarvan pluk en vertrou op die Here. As jy twyfel oor iets, bid daaroor.”

Dié jongman se droom om professioneel rugby te speel is lankal nie meer net ’n droom nie, dis ‘n mylpaal waarna hy met groot opwinding uitsien.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Maretha Swanepoel

My name is Maretha Swanepoel and I have worked at the Polokwane Review since 2012. The decision to become a journalist came at 04:00 one Friday morning while watching news of bombings in Afghanistan and I realised I wanted to be there. Some years later, I decided to rather stay in South Africa and join the industry due to my love for writing and curiosity. Even though I can write all beats, I love human interest and community news with some schools added to the mix. Telling someone’s story and using my camera to make memories is a privilege. My interests include animals (especially dogs) and mental health. I like to spend my time with my dogs and a good book. My family is important and takes second place in my heart. God is always first.

Related Articles

Back to top button