Osies wys beste sportpresteerders aan
Oosskool se somersportprysuitdeling het verlede week oor twee aande plaasgevind, waar leerders vereer is vir hul uitmuntende sportprestasies deur die jaar.
POLOKWANE – Verlede Dinsdagaand is presteerders in bergfiets, jukskei, skaak en ruiterkuns aangewys, terwyl Woensdagaand se aand die fokus geplaas het op atletiek, tennis, swem, gholf, krieket, hokkie, varswateroewerhengel en sewesrugby.
Lana Venter is sportmeisie van die jaar en ontvang die skild vir haar uitsonderlike prestasies in atletiek, hokkie en netbal. Sy was ook kaptein van die o/13-Marula-netbalspan, kaptein van die o/13B-Limpopo-hokkiespan en onderkaptein van Oosskool se eerste meisieshokkiespan.

Eben Smit is sportseun van die jaar en ontvang die skild vir sy prestasies in atletiek, hokkie, krieket en rugby. Hy dien as kaptein van die eerste rugbyspan en kaptein van die o/13A-Cravenweekspan.
In jukskei is Aysel Wienand aangewys as die top seunsjukskeispeler.
Mika Bekker en NJ Pretorius word onderskeidelik as beste junior meisies- en seunstennisspeler aangewys.

Die langasem-landloopatlete PW Griesel, Karli Coetzer, Auwke Jongbloed en Lia van der Walt ontvang elk ‘n trofee as beste junior en senior landloopatlete.
Isabel Joubert maak geskiedenis as Oosskool se eerste ruiter wat die Eventing-trofee as beste ruiter ontvang het. Sy wen ook die Core League-trofee vir beste hoërvlakruiter.
Die Nicolette-trofee vir senior skaakspeler is aan Juvan Kotzee oorhandig, terwyl Wian Marx die Verster-trofee as beste junior skaakspeler ontvang het.
In atletiek spog Phetolo Mokwana met drie groot toekennings: die Theo Heroldt-trofee vir beste seunsbaanatleet, die Brandon Cronje-trofee vir beste seunsveldatleet, en die ZC Kruger-trofee vir beste seunspresteerder.
In gholf is Danielle Fouché aangewys as meisiesgholfspeler van die jaar, en Nathan Faver ontvang is die seunsgholfspeler van die jaar.

Zandré Nel het die krieketafdeling oorheers en stap weg met vier toekennings: die Louis Moolman-trofee vir beste boulgemiddeld, trofeë vir meeste lopies en meeste paaltjies, asook die Francois Geldenhuys-trofee vir krieketspeler van die jaar.
RJ Odendaal se prestasie in hengel is met die Werner de Beer-trofee vir hengelaar van die jaar beloon. Hy het agtste geëindig in die Limpopo-liga, Oosskool én Limpopo word verteenwoordig by die o/13- Savoftoernooi in Namibië, waar hy derde algeheel geëindig het uit 56 deelnemers. RJ is ook verkies tot die SA-skole se o/10A-Savof-span vir 2026.




