Breinaalde vir brose kinders in Polokwane klik-klak
Die Handwerkgroep by Koraal brei egter nie net poppe, maar ook beertjies, truie, serpe, slaapkouse en musse.
POLOKWANE – Tyd is ‘n kommoditeit waaroor almal beskik, al voel dit soms asof dit eenvoudig nooit genoeg is nie.
Tog kan elkeen iewers ‘n paar minute afknyp om iemand in nood te help.
Vir party mense is tyd juis die grootste geskenk wat hulle kan aanbied.
By Koraal Aftreeoord kom ‘n groep toegewyde vroue elke Maandag bymekaar.
Terwyl daar heerlik gesels word, is hul hande besig om poppies te brei.

Hierdie poppies word geskenk aan Stop Trafficking of People (Stop), om sodoende aan kinders in uitdagende omstandighede oorhandig te word.
“Die boodskap van hierdie poppies is dat elke kind uniek en kosbaar is, net soos die poppie in sy of haar hand,” verduidelik Hiadee von Well, Stop-verteenwoordiger.
“Omdat die poppies nie gekoop kan word nie, dra dit die simboliek dat beide die poppie en die kind onskatbaar is. Net soos die kind die poppie vashou, hou God die kind in Sy hand.”
Seuns ontvang ook poppe, aangesien hulle dieselfde trauma en uitdagings kan ervaar en ewe veel ondersteuning nodig het.
Die Handwerkgroep by Koraal brei egter nie net poppe, maar ook beertjies, truie, serpe, slaapkouse en musse.

Die begunstigdes van hierdie items is die Tough Living with Cancer-saal (TLC) by die Pietersburg Provinsiale Hospitaal, Ngwana Babahuis en die Karoo Kinders Winter Uitreikprojek.
Charlotte Joubert van die Handwerkgroep sê dat alle skenkings welkom is.
“Die lekker van saamwerk is dat iemand altyd gereed is om te help of raad te gee. Wol-donasies is altyd baie welkom en ons waardeer elke skenking.”
Maandagoggend het Charlotte en haar span die poppe amptelik aan Hiadee oorhandig.
“Baie van die poppies is gebrei deur mense wat vandag nie hier kan wees nie. Ek weet van ‘n seun wat op 15 ‘n pop ontvang het. Hy neem dit oral saam, want hy sê dit bring vir hom rustigheid.”
Hiadee het met dankbaarheid reageer: “Ek kan nie genoeg dankie sê nie. Mense besef nie watter groot impak hierdie eenvoudige, liefdevolle gebaar op ‘n kind se hart het nie. Hulle voel werklik die liefde en omgee.”




