Met ‘n skerp sin vir humor, het juffrou Linette Afrikaans laat lééf
Op 5 November het Linette van der Walt, ná 'n moedige ses jaar lange stryd teen kanker, sag gaan rus.
POLOKWANE – Vir 62 jaar was Linette van der Walt ‘n onwrikbare steunpilaar in die lewens van haar familie en vriende, ‘n mens wie se skerp humor, warmte en raak beskrywings elke kring waarin sy beweeg het, verhelder het.
Op 5 November het Linette, ná ‘n moedige ses jaar lange stryd teen kanker, sag gaan rus.
Haar broer, Jaco Oberholzer, vertel dat Linette ‘n seldsame vermoë gehad het om elke persoon ingesluit, welkom en gesien te laat voel.

“Haar skerp sin vir humor was waarskynlik haar opvallendste eienskap. Maar sy het ook ‘n diepgaande ernstigheid gehad – insig, wysheid en ‘n manier van leef wat altyd dieper betekenis gedra het.
“Sy was ‘n gelowige mens, maar nooit dweperig nie. Lojaliteit en eerlikheid was vir haar nie bloot woorde nie, maar ‘n manier van leef. Sy was ‘n geheelmens,” sê hy.
Van 2005 tot 2020 was Linette verbonde aan Hoërskool Pietersburg, waar sy met haar unieke sêgoed sommer vinnig gewild geword het.
Leerders sal haar altyd onthou vir haar tong-in-die-kies uitdrukkings soos “jy rook jou kouse” wanneer iemand ‘n verkeerde antwoord gegee het. Wanneer sy gevra is oor die moontlikheid van weer trou, het sy skertsend geantwoord: “Ek druk eerder ‘n naald in my oog, of val op my eie swaard”’.

Kollegas Ina van der Merwe en Gerda Siertsema onthou haar met groot deernis. “Linette was ‘n tonikum, die spilpunt van elke kuier. Sy het ons vermaak met stories uit haar eie lewe, altyd met ‘n humoristiese draai,” vertel Ina. Gerda voeg by dat Linette mense meesterlik kon namaak en altyd gereed was vir ‘n bietjie pret.
“Sy het ‘n sagte plekkie vir die Spur gehad, en ‘n Jägermeister het soms onverwags sy verskyning gemaak want volgens haar was dit goed vir haar maag,” lag Gerda.
“Haar humor was soms vlymskerp, maar altyd eg. En sy het ons geleer dat daar krag is in ‘n opregte verskoning, om verantwoordelikheid te neem vir jou woorde en dade.”
As ma vir Zandré en Sibrina van der Walt het Linette uitgeblink. Jaco sê sy was diep toegewy aan haar kinders: “Sy het hulle gelei deur voorbeeld van geloof, deernis, integriteit en ‘n aansteeklike humorsin. Ek glo nie ‘n kind kon vir ‘n beter rolmodel gevra het nie.”

Linette het dit geniet om uit te eet, te braai, rugby te kyk en saam met vriende te kuier. Kook en bak was níé haar liefde nie, vertel Jaco met ‘n glimlag. “Sy het mense nodig gehad, dis hoekom sy só diep spore in soveel lewens getrap het.”
Volgens Ina was Linette ‘n ware omgeevriendin,
iemand wie se sosiale kalender weke vooruit bespreek was.
Gerda onthou Linette as ‘n uitstekende Afrikaans-onderwyser, passievol oor haar vak en haar leerders.
“Elke kind het belangrik gevoel in haar klas. Sy het Afrikaans laat lééf, met humor, warmte en karakter.”
Linette word oorleef deur haar twee kinders en haar broer, Jaco.
Haar roudiens was op 14 November gehou, waar sy met liefde en waardigheid onthou is.




