Broer van eerste verdagte ook vas vir moord op Limpopo-boer
Knap speurwerk deur ‘n reeks rolspelers het daartoe gelei dat ‘n tweede man vroeg vanoggend in hegtenis geneem is in verband met die moord op At Mahne (77) van die plaas Cosmopolite in Baltimore.
MOKOPANE – ’n Tweede verdagte is vanoggend in die vroeë oggendure deur Bosveld Misdaadondersoeke (BMO), die Tolwe-speurdiens, Mokopane-speurdiens, Mokopane misdaadintelligensie en Bosveld Plaasbeveiliging in verband met die moord en aanval op die Mahne-egpaar in Baltimore gearresteer.

Die man, die broer van die eerste verdagte wat reeds in hegtenis geneem is, Hendrik Chimole (28), is om 02:45 in die Matladi-nedersetting in Shongoane aangekeer en word tans by die Tolwe-polisie aangehou in afwagting van sy hofverskyning.
Lees hier: Police and farm watch nab suspect after fatal Limpopo farm attack
Chimole, die eerste verdagte, is Dinsdag in hegtenis geneem in verband met die moord op die beesboer At Mahne (77) en die aanval op sy vrou Pietro op die plaas Cosmopolite in Baltimore.
Hy het Woensdag in die Senwabarwana-landdroshof verskyn.
Volgens verklarings het At Mahne op die dag van sy dood omstreeks 16:00 die plaashuis verlaat om na beeste te gaan omsien.
Terwyl hy buite was, het twee verdagtes ongemerk die huis binnegegaan, vir Pietro oorrompel en haar vasgebind.

Toe At terugkeer, het die aanvallers hom ingewag, gedwing om stil te bly, hom vasgebind en aangerand voordat hulle met ’n vuurwapen, selfone en ’n onbekende bedrag gevlug het.
Pietro kon daarin slaag om die plaaswag te waarsku. Met die polisie en omliggende boere se aankoms is At steeds vasgebind en bewusteloos aangetref en nooddienstepersoneel het hom op die toneel dood verklaar.
Die vermiste vuurwapen, ’n .38-rewolwer, asook ses skerp rondtes ammunisie is tydens die jongste arrestasie teruggevind.
Daar word verwag dat die tweede verdagte vandag in die Tolwe-periodieke hof sal verskyn.




