Local News

AfriForum warm onder kraag oor Polokwane se watervoorsiening

AfriForum se Pietersburgtak eis daarom dringende en deursigtige optrede van die Polokwane Munisipaliteit, die staatsbeheerde entiteit Lepelle Northern Water en die provinsiale regering te midde van dié waterkrisis

POLOKWANE – AfriForum Limpopo is besorg oor die waterkrisis in Polokwane en beskou dit as ‘n herhaalde skending van menseregte.

Hendrik Kotzé, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Limpopo sê in ‘n mediaverklaring dat die voortslepende watertoevoerprobleme in in die stad, wat op ‘n ernstige, weeklange wateronderbreking in sommige dele van dié stad uitgeloop het, ‘n onaanvaarbare skending van inwoners se grondwetlike reg op toegang tot basiese watervoorsiening is.

“AfriForum se Pietersburgtak eis daarom dringende en deursigtige optrede van die Polokwane Munisipaliteit, die staatsbeheerde entiteit Lepelle Northern Water en die provinsiale regering te midde van dié waterkrisis,” het Kotzé bevestig.

“Dele van Polokwane sit al langer as ‘n week sonder enige water, ondanks herhaalde beloftes deur owerhede dat die situasie onder beheer is. Wat begin het as ‘n onbeplande kragonderbreking ná beplande instandhoudingswerk het geëskaleer tot verskeie gebarste pype en waterlekkasies. Die beraamde tyd om watertoevoer aan al Polokwane se inwoners te herstel, is onbepaald,” sê Kotzé.

Kotzé het beklemtoon dat AfriForum reeds in Junie vanjaar met die munisipaliteit vergader het, waarin amptenare die burgerregteorganisasie verseker het dat die watervoorsieningsprobleme teen dié tyd opgelos sou wees.

Maande later staar inwoners steeds dieselfde – en selfs erger – omstandighede in die gesig.

AfriForum het verlede week ‘n skrywe aan dr. Phophi Ramathuba, premier van Limpopo, en dr. Cornelius Ruiters, uitvoerende hoof van Lepelle Northern Water, gerig waarin onmiddellike ingryping geëis word om die watertekorte en onbetroubare watervoorsiening die hoof te bied.

“Hierdie amptenare het egter weinig gedoen om ‘n duidelike aksieplan met tydlyne vir die herstel van betroubare en deurlopende watervoorsiening aan gemeenskappe te verseker, sê Kotzé.

“Die feit dat die inwoners van hierdie stad vir byna ‘n week sonder water moet oorleef, is ‘n skending van hul reg op toegang tot voldoende watervoorsiening. Die Grondwet waarborg hierdie reg, daarom kan dit nie bloot verontagsaam word deur institusionele ondoeltreffendheid of swak bestuur nie,” sê Kotzé.

Volgens AfriForum het Lepelle Northern Water self erken dat die watervoorsienings-probleme te wyte aan herhaalde meganiese foute, gebarste pypleidings, kragonderbrekings en verouderde infrastruktuur by die Ebenezer- en Olifantspoortstelsels is.

“AfriForum het daarom weereens ‘n beroep op owerhede gedoen om ‘n onafhanklike tegniese oudit van Lepelle se infrastruktuur, insluitend die Ebenezer- en Olifantspoortstelsels te doen sodat ‘n werkbare aksieplan saamgestel kan word; deursigtige en gereelde kommunikasie aan inwoners te bied; en saam met burgerlike strukture, insluitend AfriForum, te werk om toesig oor waterbestuur te verbeter.”

AfriForum verteenwoordig duisende lede in Limpopo wat direk deur hierdie krisis geraak word. Die burgerregteorganisasie is daarom bereid om hierdie probleem te eskaleer.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Barry Viljoen

Barry Viljoen is a freelancer for the Polokwane Review-Observer.

Related Articles

Back to top button