Polokwane’s se Tannie Elsie brei poppies vir goeie doel
In die afgelope 10 jaar het Tannie Elsie al meer as 5 000 poppies gebrei en dit aan Stop Trafficking of People (STOP) geskenk.
POLOKWANE – Tannie Elsie Viviers (93) gesels land en sand met haar gaste terwyl sy heerlik sit en tee drink.
Rondom haar lê dosyne gebreide poppies – elkeen uniek, en elkeen met liefde, naalde en wol geskep.
In die afgelope 10 jaar het tannie Elsie al meer as 5 000 poppies gebrei en dit aan Stop Trafficking of People (STOP), ‘n organisasie sonder winsbejag wat bewusmaking oor mensehandel doen, geskenk.

“Ek was al besig om soortgelyke poppe te brei toe Erika Faul, die koördineerder van die poppiebreiprojek, vra of ek vir Stop kan brei. Nadat sy in 2015 gevra het, het ons amptelik begin tel – en nou staan ons op meer as 5 000 poppies,” vertel sy.
Die wol waarmee gebrei word, word aan die projek geskenk.
Hoewel tannie Elsie elke poppie self brei, word dit deur Anette Pienaar opgestop en mooi afgerond.
Elke poppie kry sy of haar eie hare en unieke bykomstighede soos knopies, hartjies en blommetjies.
Erika gee die voltooide poppies aan Hiadee von Well, ‘n vrywilliger van Stop, wat dit weer aan kinders versprei.

“Tannie Elsie het ‘n definitiewe verskil in meer as 5 000 lewens gemaak met hierdie poppies. Sommige is selfs tot in Pakistan en ander lande versprei,” sê Hiadee.
Die poppies word gebruik om kinders oor mensehandel in te lig en om hulle te help verstaan dat, hoewel almal anders is, elkeen nog steeds uniek is.
“Ek brei elke poppie uit liefde, en ek is altyd opgewonde om nuwe, helder kleurwol te kry om mee te werk,” glimlag tannie Elsie.
Sy woon saam met haar dogter, Drienie Roux, wat vertel haar ma eet, slaap en brei poppies. “Snags dink sy nuwe detail vir die poppies uit en vertel my soggens daarvan.”
Hiadee bedank almal wat agter die skerms by die projek betrokke is.
“Nou mik ons vir 6 000 poppies,” het sy afgesluit.




