Akademie Reformia se Lana Roos roep onderwys vaarwel
Lana Roos se hoop is dat leerders haar sal onthou as 'n juffrou wat hulle geleer het dat Jesus Christus die weg en die waarheid is, haar leuse en lering vir 45 jaar.
POLOKWANE – Na 21 jaar by Akademie Reformia het Lana Roos besluit om haar loopbaan as onderwyser af te sluit en nuwe uitdagings aan te pak.
Sy vertel dat haar liefde vir kinders al vroeg begin het: As sesjarige in die koshuis het sy haar ontferm oor medeleerders wat nie naweke kon huis toe gaan nie, vir hulle stories vertel en “skool-skool” gespeel, waar sy die rol van ‘n juffrou aangeneem het.
Na haar skoolloopbaan by Hoërskool Vryheid het sy by die Noordwes-Universiteit Potchefstroomkampus aangesluit. Sy besef dat die onderwys deur die jare baie verander het.
“Goeie maniere en respek word al hoe meer die onderwyser se taak, terwyl dit by die huis geleer moet word. Ouers kan dinge makliker of moeiliker maak, afhangend van hoe hulle saamwerk,” sê sy.
Lana het altyd ‘n sagte plek vir die besige, “onmoontlike” kind gehad, omdat sy self soortgelyk was, vertel sy.
Sy beskryf haar tweede jaar van onderwys as ‘n A-ha-oomblik, toe sy besef het daar is geen ander beroep vir haar as onderwys nie, al was haar eerste jaar moeilik.
Sy voeg by: “Ouers dink dikwels hulle kinders is engeltjies, maar hulle sal verbaas wees oor hoe kinders soms met onderwysers praat. Deesdae is ouers egter meer gehoorsaam.”
Na 45 jaar in die onderwys, het elke kind en elke klas haar gevorm. Sy sê haar werk was ‘n roepingsopdrag van die Here, en dat haar wêreldbeskouing altyd deur die bril van Jesus Christus gefokus was.
Haar hoop is dat leerders haar sal onthou as ‘n juffrou wat hulle geleer het dat Jesus Christus die weg en die waarheid is, haar leuse en lering vir 45 jaar.
“Vir jong onderwysers wil ek sê: as jou vertroue in die Here lê, kan jy enige hindernis oorwin. Dit is die enigste manier om die uitdagings van onderwys te hanteer,” sluit Lana af.
Drie dinge van Lana wat jy moet weet:
• Wat sou jy sê was die moeilikste deel van die werk?
Die moeilikste deel was om my werk, gesin en sport in een dag in te pas.
• As jy ‘n enkele verandering kon maak om skole beter te maak, wat sou dit wees?
Sorg beter vir die onderwysers en die res sal volg.
• Wat gaan jy die minste mis?
Die administratiewe deel van die onderwys.




