Local News

Veilige feestydlekkernye vir jou viervoetige kind

‘n Plaaslike diereverpleegkundige verduidelik watter bederfies geskik is vir jou troeteldier.

POLOKWANE – Kersfees is ’n tyd van gee en bederf, en baie troeteldiere kry ook iets spesiaals in hul kosbakkie. Maar hoe kan jy jou hond of ander troeteldier veilig bederf sonder om hulle siek te maak?

Polokwane Observer het met Elandi Dokter, diereverpleegkundige by Wolkberg Dierekliniek, gesels oor hoe om jou diere veilig te bederf tydens die feestyd.

“Dis belangrik om vetterige, ryk kos en enige bene te vermy,” waarsku Elandi.

“Kos wat heeltemal vermy moet word, sluit in sjokolade, uie, knoffel, alkohol, koffie en enigiets wat baie sout, suiker of vet bevat. Hierdie is van die gevaarlikste dinge wat jy vir jou troeteldier kan gee.”

Sy verduidelik dat troeteldiere ook pankreatitis kan kry vanweë vetterige kos, wat beteken dat hulle soms vir dae in die hospitaal op ’n drip gehou moet word.

Hoewel dit algemeen is om honde met bene te bederf, is dit volgens Elandi uiters gevaarlik.

“Groot bene kan die ingewande blokkeer, terwyl baie klein bene ’n gruis-impaksie veroorsaak. Beide gevalle kan chirurgie benodig en jou hond in die hospitaal laat opeindig.”

Hou porsiegroottes in gedagte

“Wat vir jou ’n klein happie is, kan vir ’n hond soos ’n volledige maaltyd wees,” sê sy.

“Veeartspraktyke verkoop veilige bederfies wat geskik is vir diere, maar dis belangrik om te onthou dat elke dier uniek is. Sommige troeteldiere kan selfs op gesertifiseerde produkte reageer, dit beteken nie die produk is sleg nie, net dat jou dier sensitief is daarvoor.”

Wees bewus van jou gaste

Met die feestyd is dit algemeen dat mense kuier en partytjies hou. As jy voëls het, waarsku Elandi dat hulle uiters sensitief is vir sigaretrook. “Maak seker jou voël is in ’n veilige ruimte, ver van enige rook af.”

Voëls moet ook nie blaargroentes of kosse met ’n hoë vetinhoud inkry nie. Hase, sê sy, is veral sensitief vir sjokolade, avokadopeer, uie en knoffel – maar ’n vars wortel sal hul harte (en mae) bly maak.

Stel jou gaste in kennis

“Maak seker jou besoekers verstaan die reëls rondom jou troeteldiere. Daar is baie veilige kosse vir diere, solank dit met matigheid gegee word. En as jy twyfel of vermoed jou dier het iets gevaarliks ingekry, moenie wag nie – skakel onmiddellik jou veearts.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Maretha Swanepoel

My name is Maretha Swanepoel and I have worked at the Polokwane Review since 2012. The decision to become a journalist came at 04:00 one Friday morning while watching news of bombings in Afghanistan and I realised I wanted to be there. Some years later, I decided to rather stay in South Africa and join the industry due to my love for writing and curiosity. Even though I can write all beats, I love human interest and community news with some schools added to the mix. Telling someone’s story and using my camera to make memories is a privilege. My interests include animals (especially dogs) and mental health. I like to spend my time with my dogs and a good book. My family is important and takes second place in my heart. God is always first.

Related Articles

Back to top button