Geliefde Werk en Wen in Polokwane sluit ná byna 30 jaar
Werk en Wen Pre-primêre Skool in Polokwane sluit sy deure op 31 Maart vanjaar, wat ’n hartseer einde bring vir ouers en kinders.
POLOKWANE – Ouers van Werk en Wen Pre-primêre Skool is verlede week onkant betrap toe die nuutverkose direksie van die Artikel 21-maatskappy wat die skool vir byna drie dekades bedryf het, in ‘n brief aan belanghebbendes aangekondig het dat die skool sy deure finaal sluit op 31 Maart vanjaar.
“Dit is met hartseer dat ons u hiermee in kennis stel dat PLS Opvoedingsinstituut NPC (Werk en Wen) op 27 Maart permanent sal sluit.
“Die skooltjie maak deure toe en alle werksaamhede staak op 31 Maart 2026. Ons wil opreg dankie sê vir u begrip, samewerking en ondersteuning deur die jare.
“Dit was vir ons ‘n voorreg om deel te wees van u kinders se ontwikkeling en groei,” het voorsitter van die direksie, Jacques Bartlett in ‘n omsendbrief aan ouers gesê.
“Hierdie onverwagse stap plaas ons in ‘n baie moeilike situasie want dit is nie so laat in die jaar maklik om ‘n nuwe plasing vir kleuters te kry nie en dit is baie ontwrigtend,” het ‘n ouer gesê.
“Van die direkteure se kant af is daar beslis planne vir die toekoms.
“Die gemeenskap kan uitsien na iets besonders, innoverend en gemeenskapsgedrewe.
“Ons hart sal altyd dienend bly. Maar vir eers is die res ‘n verrassing – soos Kersfees,” was al wat Bartlett bereid was om in hierdie stadium te sê.
Die skool is in 2000 as inisiatief van toenmalige hoof van Pietersburg Laerskool, Peet Bredenkamp en eerste skoolhoof Monica Strauss en lede van die skool se beheerliggaam gestig en het tot voor Covid-19 ongeveer 150 kleuters gehad.




