Local News

Goud en rekords vir Hoërskool Pietersburg atleet

Jordan Smith van Hoërskool Pietersburg skitter in atletiek met drie goue medaljes, rekordbreek en erkenning as senior Victor Ludorum.

POLOKWANE – Soos die meeste suksesvolle atlete is Jordan Smith (16) reeds op ‘n jong ouderdom aan sport blootgestel.

Hy het in die laerskool aan atletiek begin deelneem, en sy talent vroeg ontdek.

In gr. 9 by Hoërskool Pietersburg het hy ernstig begin oefen en gefokus op naellope.

“Ek onthou ek het daardie jaar aan ‘n byeenkoms by Pilditch Stadion deelgeneem waar ek ‘n baie goeie tyd in die 400m gehardloop het.

“Ek neem ook deel aan die 100m en 200m, waarvan die 200m my gunsteling is.

“My beste prestasie tot dusver is my deelname aan die SA-kampioenskappe by Groenpunt Stadion in Kaapstad en om die PHS se Atleet van die Jaar 2025-toekenning te ontvang.

“Die SA-kampioenskappe was ook my moeilikste wedloop, aangesien my senuwees die oorhand gekry het,” vertel hy.

Die jaarlikse atletiekbyeenkoms by Hoërskool Montana is volgens Jordan een van die hoogtepunte op sy kalender.

“Die atmosfeer daar is ongelooflik,” sê hy.

Jordan oefen elke middag sowat twee ure ná skool saam met sy afrigter, George Mehale. Gedurende vakansies vermeerder dit na twee sessies per dag.

Buiten atletiek neem hy ook deel aan redenaars, revue en toneel. Hoewel dit soms uitdagend is om alles te balanseer, glo hy daarin om ‘n gebalanseerde lewe te lei.

“Alhoewel dit lekker is om medaljes te ontvang en rekords op te stel, hardloop ek met ‘n doel.

“My geloof in God hou my gegrond, gefokus en konsekwent, selfs wanneer die resultate nie dadelik is soos ek gehoop het nie. Dit maak my anders as my teenstaanders.

“Voor ‘n wedloop bid ek vir kalmte en om vry te hardloop. Ek stap doelgerig op die baan, asof die Here my gestuur het, want Hy het.”

Jordan sê hy beskou sy talent as ‘n gawe van God en voel dit is sy verantwoordelikheid om dit ten volle uit te leef.

Hy vertrou op God se plan vir sy atletiekloopbaan en sien uit na wat voorlê.

Sy gesin en medeleerders ondersteun hom, en hy kyk op na Sydney McLaughlin-Levrone, wêreldrekordhouer in die 400m-hekkies.

“Haar nederigheid en sterk geloof is iets om na te streef. Ná ‘n besering in gr. 9 tydens hekkies moes ek my fokus na ander items verskuif om steeds suksesvol te wees.”

In 2025 het Jordan Limpopo by die ASA-kampioenskappe verteenwoordig en hy droom daarvan om Suid-Afrika eendag op internasionale vlak te verteenwoordig.

“Atletiek is vir my meer as net ‘n sport. Dit is my roeping, my passie en die plek waar ek vrede vind en in karakter en geloof groei.”

Hy het ook toekennings ontvang vir beste enkele prestasie (seuns), beste senior baanatleet en senior Victor Ludorum.

By die onlangse interhoër in Tzaneen het hy goud verower in die 100m, 200m en 400m – al drie rekords – en weer die toekennings vir beste senior baanatleet en senior Victor Ludorum ontvang.

Jordan Smith tydens die Soutpansberg Interhoëratletiekbyeenkoms.

Tydens die interhoër was hy ook deel van PHS se dirigente-groep wat die toekenning vir beste dirigente-opkoms ontvang het.

Jordan se seisoenprestasies tot dusver:

  • PHS-interhuis: Drie goue medaljes met rekords in die 100m, 200m en 400m; aangewys as senior Victor Ludorum.
  • Hoërskool Montana-byeenkoms: Twee rekords in die 200m en 400m.
  • Curro Podium Grand Finale: Deel van die skool se top 14 atlete.
  • Janus Robberts-byeenkoms: Breek ‘n 18-jaar-oue rekord in die 400m.
For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Maretha Swanepoel

My name is Maretha Swanepoel and I have worked at the Polokwane Review since 2012. The decision to become a journalist came at 04:00 one Friday morning while watching news of bombings in Afghanistan and I realised I wanted to be there. Some years later, I decided to rather stay in South Africa and join the industry due to my love for writing and curiosity. Even though I can write all beats, I love human interest and community news with some schools added to the mix. Telling someone’s story and using my camera to make memories is a privilege. My interests include animals (especially dogs) and mental health. I like to spend my time with my dogs and a good book. My family is important and takes second place in my heart. God is always first.

Related Articles

Back to top button