Polokwane-familie rou oor skielike verlies van ma
Alexis (35) se nalatenskap van liefde, geloof en gesinswaardes word in Polokwane onthou; haar man Norman en dogters verwerk hartverskeurende verlies.
POLOKWANE – Wanneer daar dood in ‘n familie is, is een van die moeilikste take om die nuus aan die kinders oor te dra.
Norman Henry Brown moes op 19 Februarie dié hartverskeurende taak verrig toe hy sy twee dogters moes vertel dat hul ma, Alexis (35), skielik oorlede is.
Volgens Brown het die oggend soos enige ander begin.
“Ek het administrasie afgehandel voordat ek na Phalaborwa moes ry, en Alexis het die kinders gereed gekry vir skool.
“Sy het hulle gaan aflaai en toe sy terugkom huis toe, het sy vir my ontbyt gemaak. Soos altyd het sy ‘n briefie in my kosblik gesit nadat sy dit vir my gepak het,” vertel hy.
Net ná 09:00 het Alexis hom gekontak omdat hy sy skootrekenaar se herlaaikoord vergeet het.
Dit sou die laaste keer wees dat hulle met mekaar sou praat.
“Toe die skool verdaag, het ‘n onderwyser my gebel en gesê Alexis het nie die kinders gaan haal nie.
“Ek het onmiddellik yskoud geraak en haar self probeer bel. Later het ek ons buurman gevra om te gaan kyk wat aangaan.
“Hy het bevestig dat daar fout is, en ek het Netcare 911 ontbied. Ek het ook my skoonpa gekontak, en kort daarna is die nuus gebreek dat sy oorlede is.”
Volgens voorlopige ondersoeke dui alles daarop dat Alexis moontlik ‘n bloedklont na haar brein, hart of longe gehad het.
Daar was geen tekens van trauma nie.
“Ons is in 2018 getroud en sy was my beste maat. Ons het mekaar ‘Boksie’ genoem, want ons huwelik was ‘n skatkis. Soms was dit ‘Maloksie’ of selfs ‘Boksie Maloksie’,” sê Brown.
Hy beskryf haar as ‘n vrou van geloof, liefde en diensbaarheid – ‘n talentvolle haarkapper wat met passie en kreatiwiteit gewerk het. Baie van haar kliënte het haar as ’n vertroueling beskou.
“Sy was ‘n toegewyde ma wat in elke aspek van haar dogters se lewens betrokke was.
“Luvé (7) was haar ‘Mielie’ en Xia (12) haar ‘Beezie’.
“Sy was passievol oor haar geloof, haar gesin en haar beroep. Sy het gesinstyd gekoester en was lief vir Magoebaskloof en die natuur.
“Sy het my met soveel liefde en respek hanteer. Ek koester haar liefde en haar omgeehart met alles wat ek het. Sy was sag en het altyd konflik vermy.”
As hy nog een gesprek met haar kon hê, sê Brown, sou hy net wou sê:
“Deur die Here se krag en genade het ek dit. Ons dogters sal geen tekort ly nie. Sy kan saggies rus.”
“Ons mis ons mamma, ons vertroueling, die kameraadskap, die sagte liefde – die manier waarop sy balans in haar lewe toegepas het.”
Alexis word oorleef deur haar man, Norman Henry, hul dogters Xia en Luvé, haar ouers, broer en grootouers.
Haar roudiens is verlede Saterdag gehou.




