Bokkieweek: Spansport bou karakter en dissipline
Bokkieweek sê deelname aan spansport help jongmense om selfvertroue te bou en waardevolle lewensvaardighede aan te leer.

POLOKWANE – Reeds vandat kinders in die kleuterskool is, word hulle geleer om in spanformaat saam te werk.
Of dit nou is om saam ‘n kasteel te bou of die speelgoed op te ruim, elkeen leer waar sy of haar plek in die span is.
Later vorm die kinders rugby- en netbal- of hokkiespanne en werk saam om ‘n gemeenskaplike doel te bereik.
Bokkieweek, ‘n maatskappy sonder winsbejag, wat deelname aan nasionale sporttoernooie deur jong Suid-Afrikaners, aanmoedig, het onlangs ‘n skrywe uitgestuur oor die voordele van spansport vir jongmense.
Volgens ds. Peter Stans, hoofuitvoerendebeampte by Bokkieweek, beteken spansport baie meer as net wedstryde en trofeë.
“Vir jongmense is dit ’n ruimte vorm waar karakter, dissipline en leierskap ontwikkel word. Eeienskappe wat hulle vir die res van hul lewe sal dra.”
- Karakterbou en dissipline: “Jong spelers leer deursettingsvermoë, selfbeheersing en verantwoordelikhede wanneer hulle week ná week oefen. Hierdie verantwoordelikheid vorm werksetiek en integriteit.”
- Spanwerk en leierskap: “Spansport leer jongmense dat sukses nie net oor die ‘ek’ gaan nie, maar oor die ‘ons’. Hulle leer om instruksies te volg, konflik gesond te hanteer en hulle spanmaats aan te moedig.”
- Selfvertroue en emosionele volwassenheid: “Spansport help jongmense om aan hulself te glo. Wanneer ‘n speler sien hoe harde werk vrug dra, groei selfvertroue natuurlik.”
- Gesonde leefstyl: “Fisiese aktiwiteit verbeter konsentrasie, energievlakke en algemene welstand.”
- Identifiseer met jou eie: “Elke mens het ‘n diep behoefte om êrens te behoort. Spansport skep daardie ruimte. Dit gee sekuriteit en betekenis.” Hy sê verder sport is universeel, maar dit word dieper beleef wanneer dit in jou eie taal en kultuur plaasvind.
- Taal skep verstaan en selfvertroue: “Wanneer ‘n jong speler afrigting, motivering en strategie in sy moedertaal ontvang, word kommunikasie duideliker en selfvertroue sterker.”
- Kultuur versterk identiteit: “Sport binne jou kultuur help om trots te wees op wie jy is. Tradisies, waardes en gewoontes word nie net oorgedra nie, dit word beleef.”
- Gedeelde waardes skep sterk fondamente: “Wanneer jongmense binne in ‘n omgewing waar hul taal en kultuur verstaan en gerespekteer word, beoefen, voel hulle veilig.”
- Oordrag na die volgende geslag: “Geleenthede waar taal en sport as deel van ons kultuur saamvloei, skep dit herinneringe wat oor geslagte heen voortleef.”
Stans sluit af deur te sê spansport vir jongmense is ‘n belegging in meer as net sportprestasies.
“Dit vorm karakter, bou samehorigheid en versterk Afrikaner-identiteit.
“Wanneer hierdie deelname plaasvind in ‘n omgewing waar ons taal en kultuur gerespekteer word, word die impak nog dieper en meer blywend.”




