PLKRC-Kudus skep nuwe gees in Polokwane rugby
PLKRC-Kudus/Koedoes rugbyklub herleef in Polokwane en bring nuwe energie en geleenthede vir spelers en ondersteuners.
POLOKWANE – Vir meer as ‘n eeu was die Pietersburg Rugbyklub die hoeksteen van rugby in die stad.
Die klub is gestig in 1908 en vir 108 jaar het dit generasies van spelers gevorm en uiteindelik ‘n trotse rugbytradisie.
In 2017 het die klub na die Kruinies Rugbyklub verander, maar weens onvoorsiene omstandighede het die klub in 2025 onaktief geraak en is die meeste van die spelers in die Noordelikes Rugbyklub geïntegreer.
Aangesien een klub nie kon voldoen aan die groeiende vraag nie, is daar besluit om die PLKRC-Kudus/Koedoes op die been te bring.
Dit is die begin van nuwe geleenthede, uitdagings en energie vir die rugbygemeenskap.
Daar is ‘n toename in geesdrif vir rugby onder spelers en hulle ondersteuners gesien, wat die oomblik van nog ‘n klub in die stad geregverdig het.
In die verlede was daar drie rugbyklubs in die stad.
Die sukses van hierdie inisiatief hang af van sterk gemeenskapsbetrokkenheid, en die herlewing is nie net vir huidige spelers en ondersteuners nie, maar eer ook die nalatenskap van vorige rugby-entoesiaste in Polokwane.
Die PLKRC (Kudus) sal met twee senior spanne in die Limpopo senior liga deelneem.
Die klub sal ook die ontwikkeling van ‘n o/20/-o/21-span fasiliteer en sodoende ‘n pad vir toekomstige talent verseker.
Oefening vind Dinsdae en Donderdae van 17:30-19:00 by die Polokwane rugbyveld plaas, agter die tussen die ou en nuwe Peter Mokaba stadions.
Die nuutverkose bestuur
- President: Jan Booysen.
- Voorsitter: Johan van Ravesteyn.
- Ondervoorsitter: Jaco Logtenberg.
- Tesourier: Bennie Jooste.
- Administratiewe sekretaresse: Edia Fouche.
- Direkteur van rugby: Morné Crous.





