Reën stuit nie Westerntemabasaar in Pietersburg nie
Inwoners het die N.G. Moedergemeente Pietersburg se Westerntemabasaar ondersteun, waar geld ingesamel is vir die kerk en mense in nood.
POLOKWANE – ‘n Reënerige Saterdagoggend verlede naweek het inwoners beslis nie gekeer om die Westerntemabasaar by die N.G. Moedergemeente Pietersburg te ondersteun nie.
Daleen van Aswegen, die koördineerder van die geldinsameling, het gesê dat hulle geld insamel vir die kerk en dat lidmate van die gemeente betrek is om verskillende items te maak wat verkoop kon word.
Die Western-tema, het sy gesê, is deur die gemeente gekies.
“Die geld wat vandag ingesamel word, sal gebruik word vir die instandhouding en normale funksionering van die kerk, asook vir mense in nood.
“Ons koop kos en versprei dit onder minderbevoorregtes,” het sy gesê.
Van Aswegen het bygevoeg dat die basaar nie net die kerk bevoordeel nie, maar ook die mense wat stalletjies het, aangesien hulle al die geld wat hulle op die dag maak, hou.
“Vir sommige is dit hul enigste bron van inkomste, en daarom probeer ons hulle deur projekte soos hierdie te help.”








