Groot opwinding by Bosveld Wedrenklub se hotrods-aksie
Kanada se Cole Powell, wat al in die Nascar Pintyreeks en by Talladega Superspeedway meegeding het, was een van die sterre op Mokopane se ovaalbaan.
MOKOPANE – Die hotrods-byeenkoms het verlede naweek vir groot opwinding gesorg, met ‘n goeie opkoms van toeskouers wat die koue trotseer het en van vroeg af langs die baan byeengekom en die vure aangesteek vir die aksiebelaaide wedrenne.
Die renjaers van Mahem, Rock Raceway en Bosveld Wedrenklub het mekaar die stryd aan gesê om die ovaalbaan.
Die ninja midgets, stockrods, tintops, 1660 modifieds en 2.1 modifieds voertuie het aan die geleentheid deelgeneem, terwyl die V8 Sprints vir besonderse groot aksie en adrenalien op die baan gesorg het.
Kanadese ster bring indrukwekkende rekord
Cole Powell is een van die V8 Sprints-deelnemers van Kanada wat kom deelneem het. Hy het ook met Wian Jordaan se voertuig in die 2.1 modifiedsklas deelgeneem.

Powell is een van Kanada se top ovaalbaanrenjaars en bring ‘n indrukwekkende rekord na Suid-Afrika tydens sy toer.
Hy het verskeie prestasies agter sy naam, waaronder ‘n tweede plek in die eindpunte van die 2012 Whelen Southern Modified Tour, Nascar Modified nuweling van die jaar in 2013, wenner van hoofwedrenne in die ‘World Series of Asphalt Racing,’ kampioen van die ‘Great Canadian Race,’ asook deelname in die ‘Arca Menards’-reeks by ‘Talladega Superspeedway.’
In 2018 het hy sy eerste groot oorwinning in die Nascar Pintyreeks behaal en ‘n stewige stryd om die kampioenskap gevoer voordat hy op die vierde plek in die puntelys geëindig het.
Pienaar en Oelofse baas ligter afdelings
In die ninjamidgets-afdeling het Zak Pienaar van Bosveld Wedrenklub die eerste plek opgeraap met Ryno Dercksen van Mahem kort op sy hakke in die tweede plek, in die derde plek was Xander Eloff van Bosveld Wedrenklub.
In die stockrodsafdeling het AJ Oelofse eerste oor die wenstreep gery met Zehan Hattingh tweede en Amber Molony derde.
In die tintopafdeling het Adriaan Engelbrecht (eerste), Luan Oelofse (tweede) en SJ Pieterse (derde) die pas aangegee vir ‘n wenplek en toeskouers naels laat kou.

Hough en Meijer trotseer die modifieds-afdelings
Rudi Meijer het gewys hoe daar gery moet word in die 1660 modifiedsafdeling en ry ‘n eerste plek los; kort op sy hakke was Thiaan de Jager in die tweede plek en Roulph Nel (junior) in die derde plek.
Die 2.1 modifiedafdeling het vir groot aksie gesorg en Haccum Hough wen die afdeling. In die tweede plek was Thiaan de Jager en Powell moes tevrede wees met die derde plek.
Groot spoed, groot geraas in V8 Sprints
Die V8-sprints was die hoogtepunt van die aand en het behoorlik gesorg vir groot opwinding.
Powell het vir die Suid-Afrikaners gewys hoe daar met ‘n sprint gery moet word en wen die afdeling. Kort op sy hakke was Johan Strydom (Rock Raceway) in die tweede plek en Cobus Strydom (Rock Raceway) behaal ‘n derde plek.
Volgende wedren op 3 Oktober
Die Bosveld Wedrenklub bedank die lojale ondersteuners wat altyd die wedrenne ondersteun, asook al die deelnemers wat die aand ‘n sukses van gemaak het.
Die klub is reeds hard besig met voorbereiding vir die volgende wedren wat 3 Oktober plaasvind en wat die National Hotrod Tour week gaan wees. Maak seker jy loop nie die groot geleentheid mis nie.




