FC Robberts: PLS se leier op en af die veld
As jou span jou nie kan vertrou om hulle te lei nie, het ek nie 'n span nie," sê FC Robberts oor sy kaptein- en hoofseunrolle by PLS.
POLOKWANE – Op 13 kan FC Robberts reeds spog met verskeie kapteinskapjare in rugby en krieket oor die laaste vier jaar van sy laerskoolloopbaan. Sy leierskap eindig egter nie daar nie.
Hy is tans die hoofseun by Pietersburg Laerskool en handhaaf sedert gr. 1 ‘n gemiddeld van 80%. In gr. 6 het hy ‘n plek in die akademiese Top 10 behaal.
FC erken dat dit nie maklik gekom het nie. “Ek moet hard leer en wanneer ek wil lui raak, blaas my ma in my nek. Sy en my pa druk my, maar ondersteun my ook. Hulle sê altyd vir my om net my beste te gee en hard te werk, is genoeg vir hulle.”
Op die atletiekbaan geniet FC dit om aan diskus en gewigstoot deel te neem. Alhoewel dit vir hom moeilik is om tussen die twee te kies, verkies hy gewigstoot.
“Ek het meer ervaring met gewigstoot, en dus is dit makliker. Ek moes wel in ‘n stadium kies tussen atletiek en rugby, en nadat ek goed daaroor gedink het, het ek rugby gekies.”
FC is verskeie kere as beste bouler en kolwer aangewys, en hy sê dit was lekker om vir sy harde werk beloon te word. Hy hou daarvan om voor die paaltjies te wees én as bouler op te tree, maar erken dat kolfwerk uitstaan, veral wanneer hy die bal slaan en die klank van die bal teen die kolf hoor.
As rugby- en krieketspeler was FC meer as een keer kaptein of onderkaptein. Hy glo sy leiding in dié rolle het ‘n impak op die span, aangesien hy navorsing doen oor die sport en wat hulle kan doen om te verbeter.
“Ek vra ook vrae aan die afrigters om te help dat ons kan verbeter. My span se ondersteuning en vertroue in my speel ‘n groot rol in my sukses. As jou span jou nie kan vertrou om hulle te lei nie, het ek nie ‘n span om mee te werk nie. Ek moet ook van my kant af kan luister na hulle idees, dit is immers ‘n spansport.”
FC sê dat hoewel die kaptein in beide rugby en krieket die span lei, die besluite wat hy moet neem verskil, aangesien die spelreëls en manier van speel van mekaar verskil.
Met sy ervaring as kaptein en die toekennings wat hy ontvang het, het FC geleer hoe belangrik dit is om hard te werk en altyd sy beste te gee. As jy nie hard werk of jou beste gee nie, sal jy dit wat jy doen ook nie kan geniet nie.
“Die belangrikste verantwoordelikheid as hoofseun is om jou skool altyd met trots te verteenwoordig en om jou mede-leerders, onderwysers, personeel en ouers met respek te behandel. My grootste uitdaging as hoofseun is om voor die skool te praat, maar my pa het vir my raad gegee om dit makliker te doen, en mens raak gewoond daaraan.”
FC beskryf sy jaar as hoofseun as besig, lekker en trots. “Dit is ‘n besige tyd en baie lekker, maar as jy trots is op jou skool, is dit ook makliker. Dit gaan baie gou verby.”
FC is gewild onder sy vriende en mede-leerders, asook die personeel by Pietersburg Laerskool. Elke onderwyser is sy rolmodel, aangesien hy sê hy sien in elkeen van hulle iets van ‘n leier.
“Ek is eintlik ‘n baie stil seun wat sommer oor alles dink, maar alleen in my kamer het ek gewoonlik ‘n selfoon in my hand en oorfone in my ore. Natuurlik gebeur dit eers as ek klaar huiswerk gedoen of geleer het of klaar sport geoefen het. Soms wil ek net bietjie tyd vir myself hê en rustig wees, net musiek luister of dalk met my vriende gesels. Ek hou baie van my eie tyd.”
FC beoog om sy skoolloopbaan by Hoërskool Menlopark te voltooi. Voor dit wag daar egter nog prysuitdelings en ‘n gr. 7-eksamen.




