Local News

Masels versprei landwyd, Polokwane hou dop

Maselsgevalle styg landwyd na 3 891 vanjaar, met Limpopo-dokters wat plaaslike gevalle bevestig, terwyl dalende inentingsyfers die verspreiding aanhelp.

POLOKWANE – Gesondheidsowerhede waarsku oor ‘n kommerwekkende toename in maselsgevalle regoor Suid-Afrika, met duisende infeksies wat reeds vanjaar bevestig is namate inentingsyfers tot gevaarlik lae vlakke daal – ‘n tendens wat plaaslike dokters in Polokwane ook nou fyn dophou.

Landwye syfers styg vinnig

Volgens die jongste data van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NIOS) is daar sedert die begin van 2026 tot middel Augustus reeds 3 891 laboratorium-bevestigde maselsgevalle landwyd aangeteken. Die tempo van verspreiding het die afgelope weke drasties versnel, met 144 nuwe gevalle wat in slegs sewe dae bygevoeg is.

Die virus is tans in al nege provinsies aanwesig, insluitend Limpopo.

Die Wes-Kaap, Limpopo, die Noord-Kaap en Gauteng het van die hoogste onlangse getalle aangemeld, terwyl die Vrystaat reeds meer as 670 bevestigde gevalle en verskeie hospitaalopnames het.

Dr. Wilhelm von Ludwig, plaaslike algemene parktisyn in Polokwane, sê daar was onlangs’n hele aantal bevestigde masels gevalle in die stad.

“Ek het self een of twee gevalle gesien. Mense moet net onthou dat nie alles wat masels genoem word, werklik masels is nie. Elke uitslag word ongelukkig voor die voet as ‘masels’ gedoop. En om dinge nog meer problematies te maak, is daar ook ander siektes soos Duitse Masels (Rubella), ‘Baba’-masels (Roseola infantum) wat almal meeding om aandag. Regte egte masels is ‘n redelik gevaarlike siekte en kom met koors, die tipiese uitslag, hoes en loop neus.”

Kinders swaarste getref

Sowat 70% van alle pasiënte is kinders tussen een en 14 jaar oud, veral in die ouderdomsgroep van vyf tot nege jaar.

Byna 18% van die gevalle kom egter voor by mense ouer as 15 jaar, wat dui op ‘n beduidende immuniteitsgaping onder ouer tieners en volwassenes wat nie as kinders die volle twee dosisse van die entstof ontvang het nie.

Werklike omvang moontlik veel groter

Mediese kenners waarsku dat die werklike omvang van die uitbreking waarskynlik veel groter is as wat die syfers toon, aangesien daar vir elke pasiënt wat by ‘n dokter uitkom, na raming tussen 10 en 20 ligter gevalle in gemeenskappe is wat nooit getoets word nie.

Masels is uiters aansteeklik en versprei deur die lug selfs voor die kenmerkende rooi uitslag op die vel verskyn.

Inentingsyfers val kommerwekkend laag

Volgens gesondheidskenners is die hoofoorsaak van die krisis die skerp daling in roetine-inentings. Om kudde-immuniteit te handhaaf, moet minstens 95% van kinders ingeënt wees.

In verskeie Suid-Afrikaanse distrikte het die inentingsyfer egter tot tussen 54% en 57% gedaal – grootliks weens entstof-huiwering en waninligting.

Inenting is hoogs-effektief om dit te bekamp, maar ongelukkig sien ons ook ‘n afname daarin wat heel moontlik te make het met entstof-huiwering.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Matthew Vilar

Matthew is a Digital Coordinator for Review Online based in Polokwane, Limpopo. With an interest in digital media, film, photography and music, he enjoys finding creative ways to tell stories and connect with local communities.

Related Articles

Back to top button