Peuter se verjaarsdag verander in leukemie-stryd
Milandi Hendricks (2) is met akute limfoblastiese leukemie gediagnoseer ná maande van infeksies – haar ouers deel hul pad deur chemobehandeling en hoop.
POLOKWANE – Kort nadat Milandi Hendricks die twee kersies op haar verjaarsdagkoek uitgeblaas het, het haar lewe handomkeer verander.
Skielik moes haar eie bed plek maak vir een in die Netcare Unitas Hospitaal; haar maats by die dagsorg is vervang met dokters en verpleegsters en waar sy eers opgewonde met ballonne kon speel, sou sy nou begin huil wanneer sy die dokter se blou handskoene sien.
Milandi is, nadat sy gereeld infeksie gekry het en blou kolle opgedoen het, op 21 November, met akute limfoblastiese leukemie gediagnoseer.
Haar pa, Etienne, vertel dit was nadat haar ma, Sharlene, op bloedtoetse aangedring het, wat sy gediagnoseer is.
“Milandi was vir ongeveer vyf maande voor sy gediagnoseer is, gereeld siek. Dan was dit middeloorinfeksie, dan was dit blaasinfeksie. Na die laaste keer wat die dokter haar met blaasinfeksie gediagnoseer het, het Sharlene gesê sy is nie gelukkig met die diagnose nie, en op bloedtoetse aangedring.”
Etienne onthou dit was net voor 10:00 wat die algemene praktisyn gebel het en gesê het die gesin moet haar gaan sien.
“‘n Dokter sê nie jy moet haar kom sien as dit nie slegte nuus is nie. Dit het gevoel asof daar ‘n rots op ons harte kom lê het. In my kop het ek my kind binne 24 uur begrawe, dit was ‘n ongelooflike skok,” vertel Etienne.
Milandi en haar ouers het die volgende oggend vroeg Pretoria toe gery waar hulle na dr. Fareed Ebrahim Omar and prof. David Theunis Reynders verwys is.
Skielik was hulle lewens deurmekaar en moes daar vinnige besluite geneem word.
“Ons het ‘n ongelooflike ondersteuningstelsel wat baie help. My een kollega het aangebied dat Milandi se ousus by hulle bly, en telkemale wanneer ons skielik Pretoria toe moet gaan, spring hulle in en help ons uit.”
Etienne sê hulle het baie vrae gehad, van waarom dit met hulle moes gebeur tot wat hulle as ouers verkeerd gedoen het. Dié vrae se antwoorde het eers later gekom en nou vra die ouers eerder hoekom nié hulle nie?
Oor ‘n sewe maande periode het Milandi kort by 30 lumbale punksies gekry en moes sy intensiewe chemobehandeling kry.
“Sy het die behandeling deur ‘n sentrale lyn wat in haar aorta ingeplant is, gekry. Sy moes in ‘n stadium tot 12 pille op ‘n slag gedrink. Sharlene en Milandi moes al vir so lank as ‘n maand in Pretoria bly.”
Milandi kry nou instandhoudingsbehandeling. Die kanker ontneem Milandi van haar kleurterdae. As gevolg van die behandeling, raak sy hardlywig, haar eetlus gaan weg en sy het geen immuunstelsel nie, dus is speel saam met maats eers iets van die verlede.
Etienne vertel trots dat Milandi ‘n ekstroverte babbelbekkie is. ‘n Jong meisie wat verskriklik lief is vir haar familie en ‘n baie spesiale band met haar sussie het.
“Sy probeer dikwels haar ousus beskerm, as ons speel.”
Milandi sukkel met nagmerries en selfs wanneer sy rustig is, word haar ouers se slaap onderbreek. Tussen haar versorgers wees, werk Etienne en Sharlene voltyds.
“As jy dink daar is fout by jou kind, soek die antwoorde. Mense sal nie verstaan wat ons deurgaan en waarom ons sekere besluite neem, voordat hulle nie in ons skoene staan nie. Dit is nie maklik nie.”




