Local sportSchools

Van wit trui tot Bok-glorie: Dié is Deon Fourie se storie

Adjunkhoof Ina van der Merwe het die voorreg gehad om 'n oorkonde aan Deon Fourie te oorhandig.

POLOKWANE – Presies 19 jaar nadat Deon Fourie die eerste keer ‘n ‘wit trui’ oor sy kop getrek het, trek hy die groen en goud trui oor sy kop. Die wit trui is natuurlik Hoërskool Pietersburg se eerstespan trui wat Fourie reeds in sy gr. 11-jaar begin dra het.

Op 36-jarige ouderdom, word hy vir die eerste keer tot die Springbokspan verkies en word die groen en goud trui deel van sy klerekas.

Fourie het verlede week in die stad gekuier waar hy by PHS handtekeninge uitgedeel het en aan die skool sy Springboktrui geskenk het. Hy is ook Dinsdagaand tydens ‘n glansgeleentheid as Pietie van die Jaar aangewys.

Eben en Ilouna Lingenfelder saam met Deon Fourie. Eben was Deon se eerstespan afrigter in 20024.

Afrigters van Fourie gedurende sy eerstespan seisoen: Eben Lingenfelder, Thomas Roos en Trevor van Niekerk was van die genooide gaste.

Adjunkhoof Ina van der Merwe het die voorreg gehad om ‘n oorkonde aan Fourie te oorhandig. Van der Merwe het aan die gehoor al Fourie se prestasies voorgehou onder andere die twee jaar as PHS se eerste rugbyspan waarvan hy vir die tweede jaar kaptein van die span was.

“Deon het dwarsdeur sy rugbyloopbaan met harde werk sy doel nagestreef en homself letterlik in die anale van Suid-Afrikaanse rugbygeskiedenis ingespeel. PHS eer hom vir sy besonderse leierskap, sy determinasie, sy toewyding en voorbeeld wat hy daarstel as ambassadeur van nie net PHS nie, maar ook van Suid-Afrika. Met hierdie oorkonde word erkenning gegee aan Fourie wat deur sy rugbyprestasies die leuse van sy alma mater Per Aspera Ad Astra wat in Afrikaans reik na die sterre ten volle uitleef. Dit word toegeken deur die ouergemeenskap, personeel en leerders van PHS.”

Deon Fourie teken ‘n jong aanhanger, Zelcke Visser se Springbokhemp.

Nadat Fourie die oorkonde ontvang het, het sy skoolvriende André Visser, Dawid van der Walt en Pierre Coetzee by hom op die verhoog aangesluit waar hulle vir hom vrae oor sy loopbaan gevra het. Een van die vrae wat gevra is, was oor waarom Fourie nie sy hoërskoolloopbaan in die grootstad wou voltooi nie, antwoord hy: “Ek wou agter bly. Die skool en die gemeenskap vorm jou, hierdie is die plek wat my gemaak het.”

Fourie het vroeg Woensdagoggend die PHS leerders en personeel toegespreek waar sy boodskap een was van hoe sy sukses nie net syne is nie, maar ook dié van die skoolgemeenskap wat in hom geglo en hom ondersteun het.

Deon Fourie saam met aanhangers, Karmi Minnaar, Hanru Griesel, Linéke Minnaar en PW Griesel.

“Wanneer ek terugkyk na my reis van die skoolbank na die rugbyveld, besef ek hoe belangrik dit is om die fondasie van ‘n sterk gemeenskap agter jou te hê.”

Fourie het hierna sy trui aan skoolhoof Adolf Ellis oorhandig en ‘n wit eerstespantrui deur sy spanmaat Dawid van der Walt ontvang.

Hy is ook deel van die tradisie wat ingestel is om by elke tuiswedstryd van die eerstespan die eerstespanvlag te laat wapper. Hy het ook handtekeninge uitgedeel.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button