Local sportSport

Ondersteuners van die Limpopo Blou Bulle redelik skaars

Inwonersis bederf met uithaler-rugby toe die Limpopo Blou Bulle se o/19 en o/21 Absa kampioenskappe-spanne die Valke aangedurf het

Inwoners van dié stad is Saterdag bederf met uithaler-rugby toe die Limpopo Blou Bulle se o/19 en o/21 Absa kampioenskappe-spanne die Valke aangedurf het.

Die eindstryde van die Boet Fick Amamteurliga Kampioenskappe is ook beslis op die terrein van BB Truck Noordelikes Rugbyklub. Noordelikes se spanne het in al drie liga-eindstryde gespeel.

Soos wat verwag is, het die Amateurliga Kampioenskappe se eindstryde by verre meer mense gelok as wat die Assupol Limpopo Blou Bulle kon hoop om te trek vir hulle kragmetings teen die Valke. Die o/21-span het kookwater rugby gespeel en die o/19-span het wel verloor, maar het hul teenstanders harde bene laat kou en nie net enige punte op ‘n skinkbord weggegee nie.

Daarom was dit opmerklik dat min mense van Polokwane en Limpopo regtig besef het wat die omvang van hierdie Absa rugbykampioenskappe was. Dit was moontlik een van die redes waarom so min toeskouer ondersteuning by hierdie spanne se kragmetings gesien kon word.

Die o/21-span het die span van die Valke op sy herrie laat sien met ‘n sprankelende oorwinning van 48-10. Die o/19-span van die Limpopo Blou Bulle het in die laaste gedeelte van die tweede helfde weens disipline ‘n moontlike oorwinning laat glip met twee geelkaarte waaruit die Valke munt geslaan het om met 32-18 te wen.

Limpopo Blou Bulle se drieëdrukkers in die o/21 sege was Jonty Shelton, Divan Nel, Graham Logan, Primo Ncube, Jan Deysel en PJ Kruger met Marcel Scholtz wat vyf doelskoppe en ‘n strafskop suksesvol oorgeskop het.

Die drieëdrukkers van die Limpopo Blou Bulle se o/19-span was Zander Richer en Stephan Smith. Henry du Plessis het met ‘n doel- en ‘n strafskop geslaag en spanmaat Wade Worthington het ook ‘n strafskop suksesvol oorgeskop.

Hierdie Saterdag kom Limpopo Blou Bulle se o/19- en o/21-spanne teen Griekwas te staan. Hierdie wedstryde sal in Kimberley beslis word.

Die o/19-spanne se wedstryd begin om 13:00 en die o/21-spanne se wedstryd sal om 15:00 afskop.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button