Hy is nr. 1 skermskut in SA
Jamie Norval (12) het in 2010 skerm as 'n sport begin beoefen, nadat daar 'n demonstrasie van die sport by sy skool, Oosskool, gehou is.
POLOKWANE – Jamie Norval (12) het in 2010 skerm as ‘n sport begin beoefen, nadat daar ‘n demonstrasie van die sport by sy skool, Oosskool, gehou is.
Kort nadat hy met die sport begin het, het die klub waarvan hy deel was gesluit en moes Jamie ‘n ander plan maak.
Die afrigter van die skermklub in Mokopane het die behoefte in Polokwane raakgesien en lesse in die stad begin aanbied om die mark te toets.
In 2012 het Jamie sy sport weer volstoom begin beoefen.
“Ek kan nie wag vir Donderdagaande om te kan skerm nie,” vertel Jamie wat ‘n absolute passie vir die sport ontwikkel het.
Jamie het sedert 2012 aan ‘n hele klomp klubkompetisies deelgeneem en presteer. Hy het besonder goed gevaar in die Suid-Afrikaanse klub spankampioenskappe.
“In hierdie kompetisie word spanne van vier gekies en almal is verskillende ouderdomme. Jy werk saam met jou span om soveel as moontlik punte bymekaar te maak,” verduidelik Jamie. Jamie en sy span het derde geëindig in die o/20-afdeling en tweede in die o/15-afdeling.
Hy het ook individueel aan die Suid-Afrikaanse kampioenskappe deelgeneem waar hy die semi-finaal gehaal het. Jamie is ook weer in 2013 gekies om aan die Suid-Afrikaanse kampioenskappe deel te neem en het ‘n eerste plek losgeslaan in die o/13-, o/15-, o/17- en o/20-afdelings.
“Skerm is ‘n uitdagende sport,” vertel Jamie. “Dit is een van die vinnigste sportsoorte in die wêreld en dis ‘n sport waar jy nooit seker kan wees of jy altyd gaan wen of die beste gaan wees nie. Jy wen een geveg en dan verloor jy die volgende een,” verduidelik hy.



