Smith wenner van nasionale gholftoernooi
Die Sanlam Kansa nasionale gholftoernooi is van 21 tot 22 Oktober op die bane van The Lost City en die Gary Player-buiteklub by Sun City gehou.
POLOKWANE – Die Sanlam Kansa nasionale gholftoernooi is van 21 tot 22 Oktober op die bane van The Lost City en die Gary Player-buiteklub by Sun City gehou.
Polokwane Gholfklub se Lynette Smith het aan die toernooi deelgeneem nadat sy die Limpopo se streeksuitdunronde op 24 Augustus gewen het. Smith het in die B-afdeling vir vrouespelers meegeding.
Smith, wat al vir ongeveer 36 jaar aan die sport deelneem, het haar teenstanders verras deur hierdie afdeling oortuigend te wen.
“Dis die eerste keer dat ek op Lost City se baan gespeel het, maar die Gary Player-baan by Sun City ken ek omdat ek al vantevore daar aan toernooie deelgeneem het. Ek is aangenaam verras en baie ingenome dat ek hierdie toernooi kon wen.
“Ek het ook ‘n groot passie om my deel te doen om geld in te samel vir Kansa. Vanjaar se Kansa-toernooie het oor die R3 miljoen vir kankerpasiënte ingesamel en ek is bly ek kon deel daarvan wees,” het Smith gesê.
Sy het ‘n splinternuwe Taylor Made drywerstok gewen wat sy alreeds beproef het en wat haar goedkeuring beslis wegdra.
Smith het ook vroeg in Oktober die BMW Internasionale Gholftoernooi se streekronde vir vroue by die Polokwane Gholfklub gewen en na die nasionale ronde deur gedring. Hierdie rondte word vanaf 5 tot 8 November op George se sprokiesagtige Fan Court-gholfbaan beslis. Smith het vertel dat sy nog nooit op dié baan gespeel nie, maar dat sy uitsien na hierdie nuwe ervaring.
“Na sowat 36 jaar se deelname aan gholf moet ek sê hierdie is sport wat ‘n mens nederig hou en dit is waarom gholf my belangstelling wek. Wat ek veral geniet is die vriendekringe wat met deur die jare opbou.”



