Local sportSport

Duiweman wen hier

Hendrik Jansen van Rensburg het 25 jaar gelede met duiwewedvlugte begin.

POLOKWANE – Hendrik Jansen van Rensburg het 25 jaar gelede met duiwewedvlugte begin.

Sy pa het ook duiwe gevlieg en so het die gogga vir Hendrik gebyt.

“My pa neem al 45 jaar lank deel aan die sport en ek het basies met dit grootgeword. Hy het my baie van die duiwe en wedvlugte geleer,” vertel Hendrik.

Hy is vanjaar vir die derde agtereenvolgende jaar aangewys as die klubkampioen van die Polokwane Resies Duiwe Klub. Ook is hy oor die afgelope drie jaar elke jaar as opeklas-, middelpad- en langpadkampioen aangewys.

“Vir hierdie toekennings vat hulle net jou vinnigste duif se punte,” het Hendrik, wat ook die allepunte-kampioen is, verduidelik. “Allepunte is waar hulle al jou duiwe se punte tel.”

Hendrik het die afgelope twee jaar die tweede plek in die Verre Noord Resiesduif Federasie behaal. “My doelwit is om die federasie-kampioen te wees,” het hy gesê.

Hendrik het ook vroeër vanjaar aan die Sun City Million Dollar-wedvlug deelgeneem en het 21ste uit duisende deelnemers geeïndig. Hy het weer tussen duisende deelnemers by die Dinokeng-wedvlug gestaan en 56ste geeïndig.

Hendrik se goeie punte by plaaslike wedvlugte het hom ook ‘n plek in die provinsiale span laat wen.

“Mens kry plaaslike wedvlugte, nasionale wedvlugte en internasionale wedvlugte. Een van my doelwitte is om internasionaal te kan deelneem,” verduidelik Hendrik, wat vir Protea Hokke vlieg.

Wat geniet hy die meeste van die sport? “Ek het ‘n passie vir die sport. Dis ‘n gesinsport en enige een kan daaraan deelneem.”

Hoewel die wedvlugseisoen nou verby is, spandeer Hendrik steeds baie tyd aan sy duiwe.

“Dis nou broeiseisoen, daarna kom die veerseisoen en dan begin die wedvlugteseisoen weer. Ek geniet dit om met die jong duifies te speel tydens die broei- en veerseisoene.”

“In sport en ook in die lewe is dit noodsaaklik om vir jouself doelwitte te stel en jou doelwitte na te streef.”

Related Articles

Back to top button