Vissersverhaal wat jy kan glo
In 1990 het Jumbo Willemse vir die eerste keer begin hengel. "In daardie jare was daar net gewone varswater-oewerhengel," vertel hy.
POLOKWANE – In 1990 het Jumbo Willemse vir die eerste keer begin hengel. “In daardie jare was daar net gewone varswater-oewerhengel,” vertel hy.
Jumbo se passie en liefde vir die sport het gegroei en hy het later aan die wêreldkampioenskappe vir paalhengel en karphengel deelgeneem. Hy het ook verskeie kere aan die Drienasies-reeks deelgeneem teen hengelaars van Namibië en Zimbabwe.
Drie jaar gelede het die Wêreld Hengel Liggaam, feeder-hengel as ‘n nuwe aspek van die sport aanvaar. “Aangesien dit ook met ‘n stok en katrol gedoen word, het Suid-Afrika dadelik in hierdie kategorie begin deelneem,” vertel Jumbo wat ook die afgelope drie jaar lid is van die Suid-Afrikaanse hengelspan.
Vanaf 18 tot 24 November het die Wêreldkampioenskappe by die Bloemhofdam plaasgevind en die trotse Jumbo het twee eer-ste plekke verower.
Hy is ook as die eerste Suid-Afrikaanse individuele wêreldhengelkampioen aangewys. “Suid-Afrika het al wêreldkampioene in karphengel opgelewer, maar hulle neem in pare deel,” verduidelik Jumbo. Die Suid-Afrikaanse span het ook hierdie jaar die spankompetisie gewen.
“Afgesien van die euforie van die dag, was die een ding wat vir my uitgestaan het die emosionele week wat ek met my God gedeel het,” vertel Jumbo.
Hy is in Augustus met limf-klierkanker gediagnoseer en het al agt chemoterapiesessies agter die rug.
“Van daar af tot waar ek hier sit vandag as wêreldkampioen was ‘n ongelooflike geestelike reis saam saam met Jesus.”
Jumbo het voorheen in Europa aan die wêreldkampioenskappe deelgeneem en die ervaring was baie anders as die een in Bloemhof. “Die visspesies verskil baie van dié in Suid-Afrika. Die metodes om hulle te vang verskil ook drasties,” vertel hy.
Jumbo wil graag feeder-hengel in Limpopo bevorder en hengelaars van die provinsie daaraan blootstel aangesien daar geen feeder-kommitee of baie feeder-hengelaars in Limpopo is nie.



